Aangrypende Madiba-kuns onder die hamer

Beeld:

 

 

Kaapstad. – Die eerste outentieke Jürgen Schadeberg-foto van Nelson Mandela wat deur ‘n afslaer in Suid-Afrika verkoop gaan word, kom binnekort onder die hamer. Die foto is onderteken deur die fotograaf en die staatsman,

Die eerste outentieke Jürgen Schadeberg-foto van Nelson Mandela gaan eersdaags onder die hamer kom. Foto: Verskaf

Dit gaan op Stephan Welz & Co se veiling van dekoratiewe en beeldende kunste op 25 Februarie in Constantia te koop aangebied word.

Die ikoniese foto van Mandela, wat deur die tralievenster van sy tronksel op Robbeneiland staar, is een van die werke wat ‘n belangrike deel van die veiling gaan uitmaak.

Die foto, gewaardeer tussen R70 000 en R90 000, is geneem tydens Mandela se eerste besoek aan Robbeneiland ná sy vrylating.

“Ek het vir Mandela gevra of hy teen die venster sal staan, sy arms op die vensterbank sal sit en deur die tralies sal kyk,” vertel Schadeberg

“Ek het ’n hele paar foto’s geneem en opgelet dat sy uitdrukking begin verander. Eers het hy geglimlag en ontspanne gelyk, maar toe het hy baie ernstig begin lyk. Ek het gesê: “Baie dankie, ek beter ophou.”

Hy het rondgekyk en my ’n klein glimlaggie gegee – nie sy gewone breë glimlag nie – en ek het skielik besef dat die 17-jaar wat hy in daardie tronksel was, in daardie paar sekondes deur sy gedagtes moes geflits het. Dit moes ’n erge en baie emosionele ondervinding vir hom gewees het.

Ek hoop [hierdie foto] sal help om mense te herinner aan Mandela en die baie jare wat hy agter tralies deurgebring het,” het Schadeberg gesê.

Volgens Schadeberg is net twintig afdrukke van die foto, wat deur homself en Mandela onderteken is, gemaak.

Die Duits-gebore Schadeberg was een van die sleutelfotograwe vir die tydskrif Drum tydens die oproerige 1950’s en vroeë 1960’s en word wyd beskou as ’n groot dokumenteerder van Suid-Afrika oor die afgelope 60 jaar.

“Met sy onlangse afsterwe is Mandela deesdae nog meer in die gedagtes van versamelaars as ooit,” sê Anton Welz van Stephan Welz & Co.

Op die vooraand van die vrystelling van die film “Mandela: Long Walk to Freedom” in Suid-Afrika (en net ’n week voor Mandela se dood) het die filmmaker Anant Singh waarskynlik die grootste versameling ondertekende Nelson Mandela-gedenkwaardighede gekoop wat nog ooit opgeveil is.

Die versameling is vir R1 121 000 verkoop by ’n veiling van Stephan Welz & Co. in Johannesburg.

Nog ’n hoogtepunt van die veiling is die sketstekening van Nelson Mandela deur die koninklike portretskilder Richard Stone.

Dit het as die bloudruk gedien vir sy beroemde portret van Mandela wat nou in New York hang. Stone het onder meer koninginne, prinse, die operasanger Luciano Pavarotti, die Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu het Mandela (in 2008) geskilder en het die volgende oor hulle tyd saam te sê gehad:

“Die ondervinding om mnr. Mandela te skilder was onvergeetlik. Om in sy teenwoordigheid te wees het jou werklik nederig laat voel.

“Die uitdaging was nie net om ’n goeie beeldtenis van hom te maak nie, maar ook om te voldoen aan ’n groot openbare verwagting en iets vas te vang van sy uitsonderlike gees – om werklik ’n indruk van die essensie van die man weer te gee.

“Toe hy die werk van homself gesien het, het mnr. Mandela breed geglimlag en my hand in syne vasgegryp. Sy oë het gesprankel en ek reken hy, as so ’n nederige mens, het gevoel die portret laat hom tot sy reg kom.

“Hy het so ’n wonderlike gesig gehad, met die lewe se ondervinding daarop ingeëts. Die intelligensie in sy oë, die besorgdheid en deernis, die heldemoed en saggeaardheid is alles deel van die man. Ek hoop dat hierdie portret tot ’n mate daarin slaag om sy charisma en groot persoonlike waardigheid vas te vang.”

Dit is selde dat kunstenaars hul sketstekeninge uitstal, maar Stone het sy Mandela-tekening geskenk om vir liefdadigheid deur Stephan Welz & Co by hul veiling van beeldende en dekoratiewe kunste op 25 Februarie in Kaapstad opgeveil te word. Die opbrengs daarvan sal aan CIDA gaan.

“Sy beroemde Mandela-portret, wat tans in New York hang, is ’n paar jaar gelede vir R6,8 miljoen verkoop. Stone, een van die wêreld se beroemdste lewende portretskilders wat gereeld lede van die Britse koninklike familie skilder, het ons gevra om die sketstekening waarop die beroemde portret gebaseer is, op te veil.

“Ons het gevolglik besluit om die bieëry op R100 000 te begin om soveel as moontlik belangstelling in die opveil daarvan aan te moedig.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-02-12-aangrypende-madiba-kuns-onder-die-hamer

2018-10-23T17:07:39+00:00