Bailey, Matthews stal uit

Die Burger:

 

’n Reeks kunswerke waaraan die Kaapse visuele kunstenaar Beezy Bailey en die rockmusikant Dave Matthews saam gewerk het, word van 22 Mei tot 5 Junie in die Everard Read-galery in Kaapstad vertoon.

’n Werk van Bailey en Matthews.

Bailey en Matthews is al jare lank vriende en het in 1999 vir die eerste keer saamgewerk om kunswerke te maak. Die huidige reeks werke is vanaf 2012 geskep en is reeds in die Robert Miller-galery in New York gesien.

Die twee gebruik dikwels hulself, die Statue of Liberty en Bailey se alter ego “fatman” as herhalende temas in hul werk. Die huidige reeks is ook ’n huldeblyk aan Amerikaanse kunstenaars soos Andy Warhol en Robert Rauschenberg, en bestaan uit werke in olie, emalje en sifdrukke.

In die tentoonstelling in Kaapstad sal ’n beperkte oplaag sifdrukke wat met die hand ingekleur is, vertoon word. Dit is gedruk deur Alexander Heinrici, wat ook Warhol se werk gedruk het.

Bailey en Matthews se kortfilm ITICA PRITICA sal ook vertoon word. Dit is gemaak op die eerste dag van hul samewerking in New York en wys hoe die twee navorsing vir hul kuns doen. Dit sluit in tonele waar Matthews met sy selfoon vir Bailey afneem waar hy ronddans in ’n vetpak as die karakter “fatman”. Die klankbaan is deur Matthews.

Bailey noem sy kunservaring met Matthews “visual art jamming” en is ook ingenome daarmee om met Heinrici in sy ateljee te kon saamwerk.

Matthews beskryf die kunsmaakervaring met Bailey as tegelyk terapeuties en transformerend.

Die Everard Read-galery is in Portswoodweg 3 in die Victoria en Alfred Waterfront in Kaapstad. Nader besonderhede oor die tentoonstelling by www.everard-read-capetown.co.za.)

’n Dokumentêre rolprent oor Bailey, getiteld Outsider, draai op 14 Mei in die Labiateater in Kaapstad. Dis vervaardig deur Deepend Films en die regisseur is Sean Drummond.

 

Lees hierdie en ander kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-05-11-bailey-matthews-stal-uit

2014-05-13T00:00:00+00:00