fbpx

Biënnale wys Pretoria is koel

Beeld | Johan Myburg:

 

Cool Capital, binnekort dalk ’n ander naam vir Pretoria, maar sonder twyfel ’n kunsprojek wat die hoofstad in die kollig wil plaas, is besig om stelselmatig momentum op te bou.

Angus Taylor Foto: Cornel van Heerden

“Met dié DIY-biënnale – die plan is om elke twee jaar só ’n projek te takel – wil ons wys wat Pretoria en die groter metropolitaanse gebied van Tshwane hét en visueel daaraan ’n forum gee,” het Pieter Mathews, argitek en dryfkrag agter Cool Capital, onlangs aan Beeld gesê.

Verlede week het sowat 30 beeldhouers en belangstellendes in die Van Wouw-museum in Pretoria byeengekom om lyf te gee aan die Our Sculpture Capital-projek.

Van die beeldhouers teenwoordig was Angus Taylor, Sybrand Wiechers, Sanna Swart, Francois Visser, Izanne Wiid, Rina Stutzer, Lothar Böttcher en Simon Zitha.

By dié geleentheid het Mathews verwys na die belangrike rol wat Pretoriase beeldhouers in die verlede gespeel het: kunstenaars soos Anton van Wouw, Coert Steynberg, Jo Roos en Hennie Potgieter.

Taylor, sameroeper van die beeldhouprogram, het benadruk dat die eerste Suid-Afrikaanse gieterye ook in Pretoria was. Verskeie van dié gieterye is steeds in bedryf – soos Carlo Gamberini se Renzo Vignali-gietery waar werk gegiet is vir Van Wouw en Edoardo Villa en steeds gegiet word vir kunstenaars soos William Kentridge en Deborah Bell.

Benewens Taylor se Dionysus Sculpture Works is daar in Pretoria ook Sanna Swart se Boudiccea en gieterye wat bedryf word deur kunstenaars soos Guy du Toit, Renier le Roux en Daniel Nel.

Taylor het die doen-dit-self-aard van Cool Capital vergelyk met die “geskenk-ekonomie” wat na vore kom in iets soos AfrikaBurn waar die ekonomie floreer op kreatiwiteit en nié op finansies nie.

Elke beeld wat opgerig word dien as ’n individuele projek wat deur die kunstenaar beplan, bestuur en geïmplementeer word – en by implikasie, geskenk word aan die stad.

Taylor verwys na ’n gifting community en sien hierdie individuele projekte as die kuns-tenaarsgemeenskap wat die geleentheid gebruik om werke aan die publiek te “skenk”.

Boonop kan enigiemand wat wil deelneem, uit die doen-dit-self-aard van die projek, ’n voorlegging vir ’n spesifieke beeld doen. Besoek die webwerf coolcapital.co.za.

Cool Capital bereik sy hoogtepunt van 29 Augustus tot 15 November.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-03-18-binnale-wys-pretoria-is-koel

2018-10-23T17:08:51+00:00