fbpx

Boshoff wys, gesels oor sy kuns

Die Burger:

 

Oudtshoorn. – Een van Suid-Afrika se voorste konseptuele kunstenaars, Willem Boshoff, bring in die gedaante van ’n druïde sy eiesoortige werk en prosesse na die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) hier.

Die abstrakte konsep van die kunstenaar en druïde as een wese is kenmerkend in die werk van Boshoff, en sinoniem met hom as persoon.

Willem Boshoff Foto: DEON RAATH

Boshoff, as die “Big Druid”, woon en werk in sy “cubicle”, ’n spesiaal ingerigte ruimte wat toegerus is met sy beddegoed, klere, houtwerk-gereedskap, ou stoor- en uitstal­kabinette, kieries en verskeie items en voorwerpe uit sy ­persoonlike versamelings.

In dié ruimte word ook ’n reeks nuwe werke uitgestal wat konseptueel klem lê op Boshoff se verbintenis met die natuur, asook tale. Dit wys ook op sy veelsydigheid om te werk met ’n verskeidenheid van materiale, wat wissel van hout, graniet, handgemaakte papier en sand tot gevonde voorwerpe.

Die “Big Druid” sal gedurende die fees teenwoordig wees in sy “cubicle”, waar hy sal werk aan sy kuns, woorde­boeke, filosofiese strategieë, tekste en fotografiese dokumentasie. Hy sal ook besoekers ontvang, rondleidings gee en ­gesprekke hou rondom sy kunswerke, wat dit beteken om ’n druïde te wees, asook sy persoonlike siening van die wêreld en die lewe in die ­algemeen.

Geskeduleerde “Druid”-wandelinge sal elke dag plaasvind van 09:00 af. Besoek sal gebring word aan vervalle ­geboue, vuil en verstote nedersettings, ou begraafplase, agter­strate, ou winkels en ­nywerheidsgebiede.

Die “Big Druid” se doel is om plekke en aspekte op en rondom Oudtshoorn, wat ­ander sal huiwer om te verken of te beskou, te ondersoek. Die publiek is welkom om die ­wandelinge by te woon en die “Big Druid” op hierdie stap­togte te vergesel.

Boshoff, bekend vir sy konseptuele kunswerke en installasies, se leefstyl was nog altyd soortgelyk aan dié van ’n ­druïde – spartaans, nadenkend en eerbiedig toegewy aan die studie van die natuur, die kunste en die heelal.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-03-30-boshoff-wys-gesels-oor-sy-kuns

2014-03-31T00:00:00+00:00