fbpx

Brit lei ontwerpspan vir Zeitz-museum in V&A

Die Burger | Laetitia Pople:

 

Kaapstad –  ‘n Britse argitek is aangewys om die span te lei wat die nege verdieping hoë Zeitz-museum vir Kontemporêre Kuns Afrika ­(Mocaa) in die V & A Waterfront gaan ontwerp.

Thomas Heatherwick

Thomas Heatherwick is ’n bekroonde argitek wie se ateljee onder meer ’n stedelike projek van 640 000 m² vir Hongkong ontwerp het, asook twee groot ontwikkelings in Sjanghai. Sy bekendste ontwerp tans is die huidige weergawe van Londen se ikoniese rooi bus.

Die groot uitdaging voor Heatherwick is om die gebou, eens die hoogste gebou in die Kaapstadse stadsprofiel, in sy bekende landmerk-historiese gedaante te behou, maar dit ook só in te rig dat dit die omvattende Afrika-kunsversameling van die sakeman Jochen Zeitz ten beste kan vertoon.

Zeitz en die V & A Waterfront se vennootskap vir die omvattende museum-projek beloop R500 miljoen en is in November ­verlede jaar aangekondig.

Die ­museum onder aanvoering van die kurator en kunskonsultant Mark Coetzee gaan ook gereeld kontemporêre kunstentoonstellings aanbied. Heatherwick Studio en drie plaaslike vennote sal aan die ­museum werk. Van Der Merwe ­Miszewski (VDMMA), Rick Brown Associates (RBA) en Jacobs Parker. Parker is die hoofontwerper van die museum.

Heatherwick se ateljee, waar 80 mense in diens is, is ook bekend om die ­ontwerp van die Olimpiese vlamstaander vir die Olimpiese ­Spele in 2012, asook die Britse ­paviljoen vir die Sjanghai-wêreld­tentoonstelling in 2010.

Hy is een van die sprekers op die Design Indaba wat tot 2 Maart in Kaapstad aangebied word.

Heatherwick is telkemale vir sy werk ­bekroon en het eredoktorsgrade van onder meer die Royal College of Art, Dundee, Brighton, Sheffield en ­Manchester ontvang.

In 2004 was hy die jongste ont­werper tot nog toe wat as die koninklike ontwerper ­aangewys is. Hy is verlede jaar met die ­Commander of the Order of the British ­Empire (CBE) vir sy ontwerpkuns vereer.

Zeitz se versameling is een van die drie voorste Afrika-kuns­ver-samelings ter wêreld. Dit is ­verteen-woordigend van eietydse kuns in Afrika en die diaspora. Dit sluit in werke van die Suid-Afrikaners Marlene Dumas, Nandipha Mntambo en Nicholas Hlobo. Die versameling is etlike miljoene rande werd. Die museum sal in 2016 ­geopen word.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-02-28-brit-lei-ontwerpspan-vir-zeitz-museum-in-va

2018-10-23T17:08:11+00:00