fbpx

Dís hoekom SA kurator loop

Beeld | Johan Myburg:

 

Rise and Fall of Apartheid: Photography and the Bureauc­racy of Everyday Life, ’n omvangryke foto-uitstalling wat ’n snit uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis dokumenteer, is verlede maand luisterryk in Johannesburg se Museum Africa geopen.

Verlede jaar is dié versameling vertoon in New York, München en Milaan.

Rory Bester Foto: Monique Pelser

Die organiseerders is die New Yorkse International Center of Photography (ICP). Die kurators is Okwui Enwezor en Rory Bester.

Altans, só was dit in die buiteland.

Toe die uitstalling Suid-Afrika toe kom, het Bester, ’n Suid-Afrikaanse kunshistorikus verbonde aan Wits se kunsteskool, hom om “professionele redes” as kurator onttrek.

Aan Beeld het Bester gesê hy het tóé nie die behoefte gehad om ’n mediaverklaring uit te reik nie, net soos hy nou eweneens nie daardie behoefte het nie.

By navraag was hy egter nie vaag oor sy “professionele redes” nie.

“Ek het my nie onttrek aan die projek nie – daarin is genoeg navorsingsmoontlikhede vir minstens tien jaar. Ek het my onttrek aan die uitstalling as kurator omdat Enwezor my nie as gelyke en mede-kurator erken nie. Ek het van meet af dit duidelik gemaak dat ek Rise and Fall saam met hom as gelyke aanpak. Hy het daarmee akkoord gegaan.”

Nietemin is in die Haus der Kunst in München verlede jaar na Enwezor verwys as kurator van die uitstalling “met Rory Bester”.

“Vir alle praktiese doeleindes was Enwezor die kurator. Hy het my belet om met die media te praat sonder sy goedkeuring.”

Bester en Enwezor het dié foto-uitstalling in 2008-’09 saam bedink en “die hele ding in die motor gekonseptualiseer”.

“Ons het die wêreld platgery. Ons het kort voor sy dood nog byvoorbeeld vir Paul Alberts (die fotograaf) besoek.

“Later moes ek hoor Enwezor het gesê hy loop al van 1996 af met die plan vir dié uitstalling.”

Toe Bester die ICP laat weet hy onttrek, het Enwezor hom per e-pos laat weet hy is vraatsig. “Dis so duidelik soos daglig dat dit vir die ICP ‘ ’n Enwezor-uitstalling’ is.”

Bester wou eerder onttrek en só weier om “uitgewis” te word, “soos die geval was met die 1996-uitstalling in die Guggenheim waarmee Enwezor homself gevestig het as kurator”.

“Ek praat van In/sight: African Photographers, 1940 to the Present.

“Enwezor was één van die kurators, nie dié kurator nie. Daar was ook Clare Bell, Danielle Tilkin en Octavio Zaya.

“Maar dié mense se name het mettertyd verdwyn en dié uitstalling het Enwezor s’n geword.

“Ek wou nie dat dieselfde ding weer gebeur nie en daarom het ek eerder onttrek.”

Oor menings uitgespreek in die sosiale media dat die uitstalling eerder deur Suid-Afrikaners beplan en aangebied moes word – die fotograaf Omar Badsha voel byvoorbeeld sterk hieroor – is Bester filosofies: “As ’n mens ’n goeie insig het in ’n saak, het jy ’n goeie insig. Enigiemand kan enigiets doen. Ek is nie een vir ‘net Suid-Afrikaners kan met Suid-Afrikaanse erfenis omgaan nie’.”

Dat die uitstalling aangepak en deurgevoer is, daarmee is Bester tevrede, hoewel hy dink die aanbieding in Museum Africa is iets van ’n warboel. “In München was daar meer van ’n beweeg deur die dekades sodat die besoeker kan snap wat terselfdertyd in Suid-Afrika gebeur het.

“Die gevoel dat Suid-Afrikaners aparte lewens gelei het, het daar sterker deurgekom.”

Of ’n mens só ’n uitstalling oor tien jaar nog maklik sal kan aanbied, daaroor is Bester beslis: “Dit sal gewoon net te duur en derhalwe onmoontlik wees. Niemand sal meer die kopiereg maklik kan bekostig nie.”

Enwezor wou eergister geen kommentaar lewer nie, maar het Beeld se navraag na Brian Wallis, hoofkurator van die ICP, verwys. Teen druktyd het Wallis nie gereageer nie.

Enwezor, direkteur van München se Haus der Kunst, is onlangs aangewys as direkteur van volgende jaar se 56ste Venesiese Biënnale.

  • Volgens Museum Africa in Newtown het meer as 3 000 besoekers binne die eerste 14 dae na Rise and Fall of Apartheid gaan kyk.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-03-05-ds-hoekom-sa-kurator-loop

2018-10-23T17:08:27+00:00