fbpx

Fotoreeks huldig Hallett se oeuvre

Die Burger:

 

Kaapstad. – ’n Oorsigtentoonstelling van werk deur die Suid-Afrikaanse veteraan-fotograaf George Hallett is tot 9 Julie in die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad te sien.

“The Wedding. Mother saying farewell to her daughter”, Bo-Kaap, 1968. Foto’s: George Hallett

Onder die titel A Nomad’s Harvest word Hallett se loopbaan van meer as 50 jaar belig, en sluit dit in foto’s uit sy eie versameling, asook boek en plate-omslae wat hy ontwerp het.

Hallett is in 1942 gebore en het sy loopbaan in Distrik Ses begin as straatfotograaf. Hy moes van meet af werk met gewillige en onwillige mense, asook druk van kliënte en spertye. Tog kon hy altyd daarin slaag om die essensie van sy onderwerpe vas te vang.

Hallett het in 1970 na Londen verhuis en daarna ook vir tydperke in Frankryk, Nederland, Amerika en Zimbabwe gewoon en werk. Hy het ’n nomadiese lewensstyl gevolg en in baie lande uiteenlopende werk gedoen.

Op die tentoonstelling is onder meer beelde van Houtbaai, Distrik Ses en die Bo-Kaap, asook van immigrante en sigeuners in Londen. Daar is ook portrette van uitgeweke Suid-Afrikaanse skrywers, kunstenaars en musikante in Londen en Frankryk.

’n Warm menslikheid is kenmerkend van Hallett se werk, en sy doel is altyd om die “mooi dinge in die lewe” af te neem.

In die negentigerjare het hy na Suid-Afrika teruggekeer en veral indruk gemaak met sy foto’s van Nelson Mandela tydens die verkiesing van 1994. Hy het toe besluit om aan te bly in Suid-Afrika, en is in 1997 aangestel as die amptelike fotograaf tydens die Waarheids-en-Versoeningskommissie se verhore.

Hallett werk steeds en wys sy werk plaaslik en internasionaal. ’n Aantal boeke is oor sy werk gepubliseer, insluitend Rhizomes of memory, District Six Revisited; Portraits of African Writer en Richard Rive: A Partial Biography.

Die kurators van A Nomad’s Harvest is die onlangs oorlede Pam Warne, asook Joe Dolby.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-04-27-fotoreeks-huldig-hallett-se-oeuvre

2014-04-30T00:00:00+00:00