fbpx

Geniale Da Vinci in Goudstad

Beeld | Johan Myburg:

 

Da Vinci – The Genius, die reisende uitstalling met werk van die Renaissance-meester Leonardo da Vinci, is van 2 April in Johannesburg te sien.

Great World Exhibitions, die organiseerder, het met die opening van Da Vinci verlede jaar in Kaapstad aangedui die uitstalling sal moontlik ook Gauteng toe kom.

Replikas van Leonardo da Vinci se anatomiese tekeninge is binnekort in Johannesburg te sien.

’n Woordvoerder van Great World Exhibitions het pas aangekondig dat The Amazing Place, ’n nuwe uitstalruimte in Woodmead, die plek is waar Da Vinci tot 22 Junie vertoon gaan word.

Met dié uitstalling, saamgestel met die steun van onder meer Il Genio di Leonardo da Vinci Museo in Italië en Pascal Cotte van Lumiere Technology in Frankryk, word verskeie aspekte van die geniale Leonardo (1452-1519) uitgebeeld – onder meer dié van kunstenaar en beeld­houer, uitvinder, wetenskaplike, ingenieur, argitek en filosoof.

Volgens die organiseerders is daar meer as 200 stukke te sien, waaronder 75 lewensgroot replikas geskoei op Leo­nardo se ontwerpe, weergawes van handgeskrewe manuskripte en replikas van verskeie kunswerke.

Van Leonardo se ontwerpe sluit in konsepte van ’n motor, fiets, helikopter, sweeftuig, valskerm, duikboot en pantservoertuig.

Pascal Cotte, die Fransman wat in 2004 intensiewe navorsing oor Da Vinci se Mona Lisa gedoen het, bied sy bevindinge aan as deel van dié uitstalling, waarin ’n prominente replika van dié enigmatiese skildery vertoon word.

Pascal het toestemming van die Louvre in Parys gekry om die oorspronklike doek uit die raam te haal en met ’n 240 megapieksel-multispektrum-kamera af te neem.

Benewens die Mona Lisa bevat die uitstalling ook inligting oor Die laaste Avondmaal, die voorstudies vir die Sforza-beeld van ’n perd en voorstudies vir die Slag van Anghiari, ook bekend as die “Verlore Leonardo”.

Da Vinci het uitgebreide tekeninge vir die perdebeeld gemaak. Dit was beplan as die grootste beeld van ’n perd ter wêreld. Hy het slegs ’n kleimaket daarvan voltooi wat met die inval in Milaan in 1499 deur Franse soldate vernietig is.

In 2012 het hoop opgevlam dat navorsers afgekom het op die Slag van Anghiari, die fresko (verf direk op klam pleisterklei) wat Da Vinci vir die Palazzo Vecchio in Firenze geskilder het.

Volgens diagnostiese kenners sou Leo­nardo agter die Slag van Marciano, ’n fresko van Giorgio Vasari (1511-1574), skuil. Vasari het sy fresko aangebring op ’n muur wat voor Da Vinci s’n gebou is. Tussenin is ’n nou gaping.

Gaatjies is deur die Vasari-muur geboor, toetse is gedoen en pigment soortgelyk aan dié wat Da Vinci gebruik het, is gevind. Tien maande nadat die ondersoek begin is, is dit egter gestaak ná meningsverskille tussen die kenners.

Die voorstudies van Leonardo en natekeninge, onder meer dié van Rubens, is al wat van dié werk behoue gebly het.

 

Da Vinci – The Genius is van 2 April daagliks van 09:00 tot 19:00 te sien. Kaartjies kos van R80 tot R140 by ​webtickets.co.za of by die deur. The Amazing Place is in Mount Lebanonweg, Woodmead.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-03-12-geniale-da-vinci-in-goudstad

2018-10-23T17:08:36+00:00