fbpx

Hanekom groet die KKNK

Beeld | Johan Myburg:

 

Die 20ste Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), van 29 Maart tot 5 April in Oudtshoorn, is ook die laaste fees met Sandra Hanekom as kurator vir die visuele kuns-te.

Hanekom bereik die einde van haar termyn van drie jaar wat in 2012 begin het.

Sandra Hanekom

Vir dié mylpaalfees het sy in plaas van ’n enkele feeskunstenaar drie gekry en tegelykertyd die tradisionele uitstalruimte, die galery, verruim om die ateljee van die kunstenaar deel te maak van die uitstallings.

Haar drie kunstenaars is Willem Boshoff, Louis Jansen van Vuuren en Gordon Froud.

Derhalwe kan besoekers in die Prins Vincent-gebou in Oudts- hoorn vanjaar ook ’n blik kry op ’n gerekonstrueerde weergawe van dié drie kunstenaars se werkruimte, werkbenadering en praxis.

“Die kunstenaarsateljee is nie ’n generiese werkspasie nie, maar ’n verlenging van die kunsstenaar se denke, emosies en interaksie,” sê Hanekom oor haar besluit. “In die kontras tussen die werkmetodiek en estetiese filosofieë van Boshoff, Froud en Van Vuuren blyk die verskeidenheid van die artistieke ervaring en produk – iets van ’n ontbloting van die kunstenaar se siel binne sy ateljee wat nie plaasvind in die uitstalruimte van die galery nie.”

Boshoff se uitstalling heet Big Druid in his Cubicle, Jansen van Vuuren s’n Oogwink – ’n kunstenaarsblik en Froud s’n A Retrospective of Exhibitions I Never Had.

Uit Absa se korporatiewe versameling het Paul Bayliss, Absa se kurator, die uitstalling Post-koloniale Afrika saamgestel. Dié bank bring ook ’n oorsiguitstalling van die werk van die fotograaf Peter Magubane na die fees. Die Magubane-uitstalling, A Struggle without Documentation is No Struggle, is nog tot Donderdag te sien in die Absa-galery in Johannesburg.

Volgens Hanekom is daar ook uitstallings wat “die persoonlike ervarings teenoor hul historiese en genetiese erfenisse ondersoek”: dié van Roelof Petrus van Wyk (Afrikana/Afrikanus), Jan du Toit (Opklim) en Marinda du Toit (Johanna Brandt die Klein Karoo).

Odyssee: Swerftog met Alexis Preller is ’n groepuitstalling met Jaco van Schalkwyk as kurator en met tekste deur Riana Scheepers. Hannalie Taute is terug op die fees met Rubber Ever After en Hennie Meyer is daar met Die gras is altyd groener aan die ander kant, maar jy kan nie daarop lê nie.

Knysna Fine Art bring ’n uitstalling van Phillemon Hlungwani, Mi kondzo tinghwazi (In die voetspore van helde) en een van Leon Vermeulen, Tussen twee oewers.

Stephan Welz en Kie. bied ’n kunsveiling aan op 3 April in die Presbiteriaanse kerksaal in Baron van Reedestraat.

* Rondleidings deur Hanekom en Bayliss vind van 31 Maart tot 5 April om 11:30 plaas.

Bespreek by Computicket.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-03-10-hanekom-groet-die-kknk

2018-10-23T17:08:31+00:00