Hoogtepunte vir Kaapstad

Die Burger | Laetitia Pople:

 

 

Innoverende ontwerpe te sien.

’n Keur van die werke deur die kunstenaar Lyndi Sales is op die tweede kunsmark in Kaapstad vanjaar te sien.

Kaapstad. – Die Moederstad se status as ontwerphoofstad van die wêreld word vanjaar behoorlik gevier met drie hoogtepunte op die ontwerp-en-kunskalender, naamlik Afrika se eerste internasionale ontwerpskou, Kaapstad se tweede kunsmark en die jaarlikse Design Indaba.

• Guild, die ontwerpskou, begin op 27 Februarie in die Look­out in die V&A Waterfront. Werke van ontwerpers uit 17 lande van vier kontinente sal te sien wees. Een van die groot trekpleisters op die skou, wat 11 dae duur, is die jongste werke deur The Haas Brothers.

Hierdie ontwerpers skep gereeld ontwerpe vir die popster Lady Gaga, die modeontwerper Versace en die Oscar-bekroonde akteur Leonardo DiCaprio.

Besoekers sal ook die innoverendste 3-D-ontwerpe tans ter wêreld besigtig.

Die organiseerders Trevyn en Julian McGowan, kampvegters vir Afrika-ontwerpe, verwag nagenoeg 10 000 besoekers.

Guild-hoogtepunte

•  Nacho Carbonell van Nederland gaan ’n besonderse installasie vir die binnehof van die Lookout ontwerp. Hy sal vir die duur van die skou voorwerpe met Sheweshwe, tra­di­sionele Xhosa-lap, toedraai.

• Die bekende New Yorkse ­galery R20th Century, wat die grense tussen kuns, kunsvlyt en ontwerp versit, gaan ’n ­oorsigtentoonstelling van Ame­rikaanse ontwerp sedert 1960 aanbied. Dit sal werke deur The Haas Brothers ­insluit, asook van die kunsmeubelontwerper Wendell Castle en die glaskunstenaar Jeff Zimmerman.

• Die Italianer Rossana ­Orlandi , wat as

die “beskermfee” van ontwerp bekend staan, sal haar persoonlike keur van die beste ontwerpe tans in ­Europa en Suid-Amerika kom ten toon stel.

• Die toonaangewende Vic­toria and Albert Museum (V&A) bring tesame met The Britsh Council ’n oorsigtelike tentoonstelling van Britse ­ontwerpe na die skou.

Daagliks sal rondleidings en praatjies plaasvind. Die skou word tot 9 Maart aangebied. Die tye is: Vrydag 28 Februarie van 11:00 tot 15:00, Maandae tot Saterdae van 11:00 tot 20:00, Sondag 2 Maart van 11:00 tot 18:00 en Sondag 9 Maart van 11:00 tot 16:00. Kaartjies kos R75, R50 vir leerders, studente en pensioentrekkers. Kinders onder 12 jaar kan dit gratis bywoon. Kaartjies vir die skou en die Kaapse kunsmark kos R120.

 

• Die tweede Kaapstadse kuns­­mark word van 28 Februarie tot 2 Maart in die ­Pavilion by die V&A Waterfront aan­gebied. Altesame 34 toonaan­gewende galerye soos onder meer Stevenson, Goodman, Smac en Everard Read gaan deelneem aan hierdie toon­venster vir eietydse kuns.

Fiera Milano Exhibitions ­Africa bied dit aan. Die groep is onder meer vir die jaarlikse kunsmarkte in Milaan en Istanboel verantwoordelik.

Andrew Lamprecht, een van die plaaslike kurators, beloof ’n meer gefokusde tentoonstelling as die eerste kunsmark verlede jaar. “Dit is ’n gulde ­geleentheid om die room van die groot galerye se talent in een ruimte te sien.” Hy het gesê voorsiening is gemaak vir verskillende prysklasse.

Hoogtepunte sluit in ’n ­­spesiale projek deur die uit­genooide kunstenaar Josh Ginsberg, asook papierkonstruksies en -installasies deur Lyndi Sales wat deur die kurator Ernes­tine White saamgestel is. Vertonings in die Imax-teater van Suid-Afrika se top-multimediakunstenaars, asook paneel­besprekings en debatte word in die vooruitsig gestel, terwyl die Sovereign-kunsstigting ’n op­­win­­dende ­program vir ­kin­ders gaan aanbied.

Die besoektye is Vrydag en ­Saterdag van 10:00 tot 20:00 en Sondag van 10:00 tot 18:00. Toegang kos R70. Kinders onder 12 jaar betaal R45. Pensioentrekkers en studente betaal R45.

 

•  Die Design Indaba-konfe­rensie en skou wat jaarliks ­sowat 35 000 mense trek, word van 26 Februarie tot 2 Maart in die Kaapstadse Inter­nasionale Konferensiesentrum gehou. Die skou wys die beste van eietydse Suid-Afrikaanse ontwerpe en sluit in advertensiekuns, vlytkuns, dekor, mode, produkontwerp, industriële ontwerp, nuwe media, visuele kuns en juweliersontwerp. Dit duur van 26 Februarie tot 28 Februarie.

Vanjaar se sprekers sluit in die fotograaf David Goldblatt, die bekroonde kunstenaars Nandipha Mntambo en ­Zanele Muholi . Die tendensvoorspeller Li Edelkoort en ­lede van die Nederlandse ontwerp-ateljee Experimental Jet­set, wie se werke in MoMA uitgestal is, beloof ook trekpleisters te wees.

Benewens die skou en ­konferensie word ’n musiekprogram in verskeie lokale in die stad aangebied, asook ’n rolprentprogram met 10 première-vertonings in Maiden’s ­Cove, Clifton en die Kasteel. Onder die prente tel Wes ­Anderson se jongste prent, The Grand Budapest Hotel, The Other Side en die Oscar-benoemde dokumentêr 20 Feet from Stardom. Die prent ­handel oor Darlene Love, agtergrondsanger van onder andere Elvis Presley, ­Dionne Warwick en Aretha Franklin, wat tussendeur as ­bediende ­gewerk het om die pot aan die kook te hou.

Kaartjies vir die skou kos R80 (aanlyn en by die deur). Pen­sioentrekkers en studente betaal R60 by die deur. ­Kinders tussen 10 en 18 jaar betaal R45.

 

Lees hierdie en ander kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-02-18-hoogtepunte-vir-kaapstad

2018-10-23T17:07:50+00:00