fbpx

Kaap ‘word waardige kunstuiste’

Beeld | Johan Myburg:

 

Kaapstad is later vandeesmaand gasvrou vir ’n kuns- en ’n ontwerpmark, die tweede Kaapstadse kunsmark en die Design Indaba Expo 2014.

Albei dié geleenthede word van 28 Februarie tot 2 Maart in die Moederstad aangebied wat ook vanjaar die internasionale ontwerphoofstad is.

Die Kaapstadse kunsmark volg kort op die suksesvolle eerste een van sy soort verlede jaar in Oktober en word in die BMW-paviljoen by die V&A Waterfront aangebied.

Net meer as 30 van die land se voorste galerye – waaronder die Johannesburgse Artist Proof Studio, David Krut Projects, Everard Read, Gallery AOP, Goodman, Stevenson en Strauss & Kie. – neem deel aan dié mark.

Benewens dié galery-uitstallings is daar ’n kunsprogram vir kinders, geborg deur die Sovereign-kunsstigting; rolprentvertonings in die Imax-teater; en ’n reeks lesings deur resensente, kunstenaars en kunspraktisyns.

Andrew Lamprecht, die kunsmark se genooide kurator, meen Kaapstad ontluik vir die rol van “wêreldwye kunstehoofstad”.

“Die stad kan net van krag tot krag gaan; tot voordeel van al die inwoners,” sê Lamprecht op die amptelike webwerf van die tweede Kaapstad-kunsmark.

“Ons het (in Kaapstad) meer galerye as voorheen en die kunstenaars wat hulle hier vestig, is kreatief, produktief en hul werk kan met dié van die buitelandse mark en huidige neigings in die kunswêreld vergelyk word.”

Die kunsmark word aangebied deur die internasionale uitstalagent Fiera Milano, wat kunsmarkte in Milaan en Istanbul bestuur.

Kaartjies kos van R45 tot R75 stuk.

Besoek die webwerf ​artfaircapetown.co.za.

Design Indaba Expo 2014 word sedert 2004 in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangebied.

Dit is die grootste ontwerpgeleentheid van sy soort in die Suidelike Halfrond en bied uitstalmoontlikhede vir die advertensiebedryf, handwerk, dekor, mode, produkontwerp, nywerheidsontwerp, nuwe media, die visuele kunste, juweel- en grafiese ontwerp.

Bespreek by ​Computicket. Besoek ook die webwerf ​designindaba.com.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-02-02-kaap-word-waardige-kunstuiste

Prent: http://www.rocketfilmsafrica.com/2011/11/22/cape-town-2014-design-capital-of-the-world/

2018-10-23T17:07:17+00:00