Kaapstad vier sy ontwerp-eer

Beeld | Johan Myburg:

 

Sowat 450 kuns- en ontwerpprojekte is vanjaar in en om Kaapstad asook elders in die land deel van die ­WDC 2014-program (World Design Capital) wanneer Kaapstad die status van ontwerphoofstad van die wêreld geniet.

Kaapstad is in Oktober 2011 deur die internasionale raad van nywerheidsontwerpverenigings (ICSID) as ontwerphoofstad aangewys nadat dié stad se bod suksesvol was bó dié van Dublin in Ierland en Bilbao in Spanje.

Vorige ontwerphoofstede was Helsinki in Finland (2012), Seoel in Suid-Korea (2010) en Turyn in Italië (2008).

Die ICSID het die WDC-program begin omdat ontwerp toenemend gereken word as werktuig vir openbare en private ontwikkeling.

Volgens WDC se webwerf kwalifiseer ’n stad vir ontwerphoofstad as dit kan getuig dat ontwerp ingespan word om die gemeenskaps-, kultuur- en ekono-miese voorpoed van sy inwoners te bevorder in ’n jaar lange program van ontwerpverwante geleenthede.

Kaapstad se program is saamgestel ná ’n keur­proses van tien maande uit meer as 1 250 voorleggings.

Een van die hoogtepunte is ’n projek waarin die visuele kunste en drukgrafika kragte saamsnoer in die vorm van ’n lesing en ’n ­tentoonstelling waarin die internasionaal bekende ­kuns­tenaar Luc Tuymans en die plaaslike Warren Editions-ateljee sal saamwerk.

Benewens ’n magdom projekte – besoek wdccapetown2014.com – is daar verskeie geleenthede wat dit die moeite werd maak om Kaapstad te besoek.

Die jaarlikse Design Indaba word van 28 Februarie tot 2 Maart in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum aangebied. Sedert die eerste Indaba in 2004 maak sowat 35 000 besoekers jaarliks ’n draai by dié ontwerpekspo, die grootste in die Suidelike Halfrond. Besoek die webwerf designindaba.com.

Van 11 tot 15 Maart word die Moederstad oopgestel vir Infecting the City (ITC), ’n jaarlikse avant garde-fees van openbare omgewingspesifieke en performance-kuns. Besoek africa-centre.net/infecting-the-city.

Die Kaapstadse karnaval, ’n viering van Suid-Afrikaanse kultuur en erfenis met behulp van beweging, ritme, kleur en kreatiwiteit, word op 15 Maart in Groenpunt aangebied. Besoek capetowncarnival.com.

100% Design South Africa is van 25 tot 28 April deel van Kaapstad se Decorex. Dié ontwerpuitstalling is van 6 tot 10 Augustus in Johannesburg te sien.

Terwyl die jaarkongres van die internasionale vereniging van argitekte (UIA) van 3 tot 7 Augustus in Durban plaasvind, bied Kaapstad as ontwerphoofstad in samewerking met Durban net ná die kongres ’n reeks openbare geleenthede aan wat op argitektuur en stedelike ontwerp fokus.

Besoek leadingarchitecture.co.za/world-design-capital-2014-uia-2014-establish-synergies.

Die Mercedes-Benz-modeweek vind van 8 tot 10 Augustus in die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum plaas. Ontwerpe van Thula Sindi, Craig Port, Rosenwerth, Habits en Lalesso (voorheen La Kanga) is onder meer op die loopplank te sien. Besoek afi.za.com.

Die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar, en daar is teen Oktober of November ’n ontwerpsimposium in Kaapstad oor aspekte van kunstefeeste: onder meer oor konseptualisering, terrein- en programbeplanning.

 

Woorde: http://www.beeld.com/vermaak/2014-01-14-kaapstadviersy-ontwerp-eer

Prent: http://www.ontap.co.za/blog/520/excitement-still-running-high-for-cape-town%E2%80%99s-prestigious-award/

2018-10-23T17:06:53+00:00