fbpx

Kaapstad kry eie kunstefees van wêreldgehalte

Die Burger | Kunsredaksie:

 

Kaapstad. – ’n Splinternuwe kunstefees, gegrond op die wêreld se ikoniese kunstefeeste, kom in September na die Moederstad.

Die Cape Town Fringe sal onder meer in en om die Kaapstadse stadsaal aangebied word en is geïnspireer deur die bont, kreatiewe energie van gewilde Fringe-feeste in New York, Amsterdam, Adelaide en Edinburg.

Tony Lankester, hoof van die Nasionale Kunstefees. Foto: Argief

Die fees word gehou as deel van ’n vennootskap van drie jaar tussen die land se oudste kunstefees, die Nasionale Kunstefees op Grahamstad, en die Stad Kaapstad.

Op die planke sal jong, dinamiese en snykant-produksies wees deur van Suid-Afrika se voorste teaterskeppers, beloof Tony Lankester, hoof van die Nasionale Kunstefees.

“Die aard van produksies op die Fringe is uitdagend, innoverend, opwindend en versit grense vir kunstenaars en gehore. ’n Fringe-fees as sakemodel moedig onafhanklikheid en volhoubaarheid aan, terwyl die koste deur die kunstenaars gedeel word.”

Na verwagting gaan daar 40 produksies in verskeie lokale in die stadskern en in satelliet-lokale onder meer in Langa aangebied word.

“Toegang is van kardinale belang vir die sukses van ’n randfees en was deurslaggewend vir ons betrokkenheid by die fees,” het die onderburgermeester, Ian Neilson, gesê.

Pryse van kaartjies, keuse van lokale en die skedulering van optredes dra by tot die aanloklikheid van die fees vir tradisionele en nie-tradisionele teatergangers.

Die feesorganiseerders wag nou aansoeke in. Produksies wat “uitdagend, voor-op-die-wa, vol selfvertroue, sosiaal-bewus en onafhanklik is, sal voorkeur geniet, het die Nasionale Kunstefees se artistieke direkteur, Ismail Mahomed, gesê.

Kunstenaars sal ’n klein registrasiefooi betaal, asook huur vir die lokaal. In ruil ontvang hulle die leeueaandeel van die loket. “Die Fringe sal onder meer die bemarking, kaartjieverkope, oprig van die lokaal en personeel hanteer.”

Kaapstad is gekies omdat dit reeds ’n lojale teatergehoor het. Die stad het ook die regte gees vir ’n fees soos dié, en die fees het groei-potensiaal hier, het Lankester gesê.

Die Nasionale Kunstefees is lid van die vooraanstaande World Fringe Alliance – ’n groep van nege randfeeste wat saam nagenoeg 3 miljoen mense wêreldwyd bereik. Die feeste is in Grahamstad, Hollywood, New York, Edinburg, Brighton, Praag, Amsterdam, Perth en Adelaide.

“Ons bou Cape Town Fringe on die stewige fondament. Danksy die netwerk, kan ons verskeie internasionale produksies na Kaapstad bring en voortgaan om geleenthede vir ons kunstenaars oorsee te skep,” het Lankester gesê.

Die Cape Town Fringe sal van 25 September tot 5 Oktober aangebied word. Aansoeke word nou ingewag. Vir meer inligting, besoekwww.capetownfringe.co.za.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-04-16-kaapstad-kry-eie-kunstefees-van-wreldgehalte

2014-04-16T00:00:00+00:00