fbpx

Kanker eis skilder, beeldhouer Du Toit

Beeld | Johan Myburg:

 

Die Kaapse kunstenaar Paul du Toit is eergister in ’n hospitaal in Constantia, Kaapstad, oorlede nadat hy in 2010 met melanoom gediagnoseer is. Hy was 48.

Volgens sy vrou, Lorette, het die kanker versprei na sy long en pelvis. Hoewel hy gaandeweg verswak het, “was hy tot die einde so geweldig sterk en moedig”, het sy gesê.

Paul du Toit

Du Toit is bekend om sy kleurvolle skilderye en beeldhouwerk wat knus sou kon pas binne Art Brut. Sy werk is al vergelyk met dié soort waarom Joan Miró, Jean Dubuffet en Jean-Michel Basquiat bekend is.

As jong seun het Du Toit rumatoïede artritis opgedoen en drie jaar in hospitale en rolstoele deurgebring. In dié tyd het ’n besoek aan ’n sirkus gesorg vir ’n lewenslange belangstelling in nargesigte, asook in die sirkus.

In ’n onlangse onderhoud met Ashraf Jamal, redakteur van Art South Africa, het Du Toit die belangrikheid van kleur en “vrolike wesens” in sy kuns beklemtoon. “Dis die rede waarom ek (in 1997) die webwerf PlanetPaul begin het – om die planeet met dié eienaardige wesens te bevolk.”

Op die einste webwerf het ’n Franse galery-eienaar sy werk gesien en Du Toit genooi vir ’n solo-uitstalling in 1998.

Du Toit se laaste uitstalling in Johannesburg, A Slice in Time, was in 2012 toe hy werk tegelyk vertoon het in Gallery Momo en op die Nirox-landgoed in die Wieg van die Mensdom.

’n Gedenkdiens word beplan vir volgende Saterdag by die Zip Zap-sirkusskool in Jan Smutsstraat, Kaapstad.

“Met Zip Zap het Paul ’n betekenisvolle band gehad. Dit is net reg dat sy gedenkdiens daar gehou word,” het sy vrou gesê.

Du Toit laat sy vrou en twee kinders, Danielle (18) en Joshua (16), agter.

 

Woorde en Prent: http://www.beeld.com/vermaak/2014-01-10-kanker-eis-skilder-beeldhouer-du-toit

2018-10-23T17:06:46+00:00