fbpx

KKNK gereed vir die 20ste fees

Die Burger:

 

Kattermaai, kos, kuns, kultuur, klets en kuier. Dit is alles op die Absa Klein Karoo Nasionale Kunstefees se feesprogram vir vanjaar, die jaar waarin die fees sy 20-jarige bestaan vier. Die meer as 100 aanbiedings sal sorg dat daar iets vir ­elke smaak is.

Die fees begin met die Bravo-bal waarmee geld vir die Teaterbystandsfonds ingesamel word.

Die KKNK is terug.

Karoo Pops en Kaktus op die Vlaktes is weer deel van die musiekaan­biedings, terwyl verskeie ander musiekverhoë ­besoekers die geleentheid gee om bekendes en nuwe talent in aksie te sien.

Van die sangers wat sal optree, is Dorothy Masuka, Steve Hofmeyr, Rina Hugo, Laurika Rauch, Karen Zoid, Amanda Strydom, Emo Adams, Zanne Stapelberg, Chris Chameleon, Jannie du Toit, Anna Davel, Laurinda Hofmeyr, Elvis Blue, Adam Tas, Take Note en Spoegwolf.

’n Paar gunsteling-toneelproduksies word teruggebring soos ­Sha­leen Surtie-Richards in die gewilde Shirley Valentyn, Deon Opperman se Boesman, my Seun met ­Louise van Niekerk en Wessel Pretorius en ­Sandra Prinsloo in Naai­masjien.

Bekroonde produksies soos ­Macbeth.slapeloos met Anna-Mart van der Merwe en Dawid Minnaar, Oorsee deur Tertius Kapp met Brendon Daniels en Nicole Holm, en Land van Skedels, die plekspesi­fieke produksie van Nicola ­Hanekom, gaan hoogtepunte wees.

Nuwe werke sal ook op die fees debuteer, soos Radiowolf van Leon Kruger met Frank Opperman, Moeder Moed en Haar Kinders, oorspronklik deur Bertolt Brecht, vertaal deur Saartjie Botha met Aletta ­Bezuidenhout; Samsamasjien deur Willem Anker, waarvan Jaco ­Bouwer die regie behartig; Braai deur Willemien Brümmer; en die nimlike Bladsy 3 met Elma Postma as die ikoniese ontkleedanseres, Glenda Kemp.

Die klug Boeing-Boeing met ­Terence Bridgett en Theodore ­Jantjies debuteer op die fees, asook Dowwe Dolla in Dolla Betaal Belasting en Vat Hom Flaffie, geskryf deur Pieter Fourie en regie deur Albert Maritz, met Chris van Niekerk, Susanne Beyers, Chanelle de Jager en Emile Minnie. Die jong teatermakers om dop te hou is beslis weer die span van Polony met hul produksies Die Lelike Eend, Waterpas en Slaaf. Christiaan Olwagen behartig die regie van Dogma, asook Feeskatte met Susanne Beyers, Joanie Combrink en Elsabé Daneel. Wentel is die debuutwerk van die opkomende regisseur Nico Scheepers, met Anna-Mart van der Merwe en Pedro Kruger.

Feesgangers kan ook uitsien na die broeikas-lokaal genaamd Baanbreek met Naomi van Niekerk in Kontinuum, Jemma Khan in Epicene Butcher asook die baie opwindende werk van Rust Cooperative, genaamd Siembamba met Nieke Lombard in die rolverdeling.

Die visuele-feeskunstenaars vir 2014 is Louis Jansen van Vuuren en Willem Boshoff. Ander solo-uitstallings sluit in Jan du Toit (Opklim), Marinda du Toit (Johanna Brandt en die Klein Karoo), Roelof Petrus van Wyk (Afrikana/Afrikanus), Phillemon Hlungwani (Mi Kondzo Ya Tinghawi/In the Footsteps of Heroes) en Peter Magubane (A Struggle without Documentation is No Struggle).

Aan lekker kos sal daar geen tekort wees nie. Die Karoo Lamtafel, ’n driegangete in Baron van Reedestraat, wat deur Herman Lensing (Sarie) en Marinda Engelbrecht (Kokkedoor-faam ) aangebied word, bring kos en teater bymekaar uit. Hul produksie, Voorskoot en Lipstiek, asook ’n pasproe met bier en sjokolade gaan die bier-brigade ’n ding of twee wys.

Die volledige program sal op 22 Januarie bekend wees. Bespreek daarna by Comuticket.

 

Woorde: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-01-16-kknk-gereed-vir-die-20ste-fees

Prent: http://www.buffelsdrift.com/easter-accommodation-in-oudtshoorn/

2018-10-23T17:06:51+00:00