fbpx

KKNK ná 2 dekades

Beeld | Johan Myburg:

 

Die program van die 20ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees is verlede week in die Kango-grotte, naby Oudtshoorn, bekendgemaak.

Dié fees word van 29 Maart tot 5 April in Oudtshoorn aangebied.

Rhodé Snyman

Rhodé Snyman, waarnemende uitvoerende hoof van die kunstefees, het by die bekendstelling meer as 20 redes uitgesonder waarom dié fees besonders is. Onder dié tel die feit dat die Absa KKNK vanjaar spog met 22 nuwe tekste en vyf nuwe vertalings en/of verwerkings van buitelandse toneelstukke.

Daar is onder die 150 aanbiedings 50 debuutproduksies; daar is 20 komedies en les bes is daar drie feeskunstenaars.

Onder die debuutdramas is Bladsy 3 met teks deur Vicky Davis en onder spelleiding van Tara Notcutt. Dié stuk bring grepe uit die lewe van Glenda Kemp, ontkleedanseres van die 1970’s, na die verhoog.

In Braai laat val Willemien Brümmer die kollig op die verband tussen gesins- en landspolitiek. Die regisseur is Lara Bye.

Die hart is maar net ’n pomp van Johan Engelbrecht en met regie deur Karen Fourie roep die eerste hartoorplanting van 1967 in herinnering.

Christiaan Olwagen is die skrywer én regisseur van Dogma, ’n omgewingspesifieke teaterstuk waarin die rol van geloof, die magiese, identiteit, menslikheid en geskiedenis in ’n grootwordhuis verken word.

Marguerite Robinson het A. R. Gurney se Love Letters vertaal as Kysbriewe. Die vervaardiger is Giep van Zyl.

Nog ’n omgewingspesifieke stuk is Saartjie Botha se vertaling van Bertold Brecht se 1939-stuk Mutter Courage und ihre Kinder. Die regisseur van Moeder Moed en haar kinders is Jerry Mofokeng.

In Rondomskrik uit die pen van Rachelle Greeff word gefokus op die verkragting van en moord op ­Anene Booysen in Bredasdorp.

Die regisseur is Hennie van Greunen.

Willem Anker is die skrywer van Samsa-masjien en die regie van dié stuk oor Gregor Samsa, wat ’n stelselmatige insek-wording ondervind, is Jaco Bouwer.

Wessel Pretorius en Carel Nel is die skrywers van Slaaf. Pretorius is die regisseur.

Van Greunen is die vertaler en regisseur van die Australiese dramaturg Tom Holloway se And No More Shall We Part. Dié stuk word aangebied as Vir ewig en altyd.

Onder die 20 komedies is Boeing, Boeing met regie deur Henry Mylne, My boetie se sussie se ou onder spelleiding van Frans Swart en Pieter Fourie se Vat hom Flaffie met regie deur Albert Maritz.

Hoogtepunte op vanjaar se Baanbreek-program, die fees se broeikas vir die kunste, is onder meer The Epicene Butcher, ’n Japanse storievertelling met regie deur John Trengove, en Siembamba deur die skrywers Philip Rademeyer en Penelope Youngleson en met regie deur Rademeyer.

Die drie feeskunstenaars, gekies juis omdat hul kunspraktyk so uiteenlopend is, is Willem Boshoff, Gordon Froud en Louis Janse van Vuuren.

Die kurator vir die visuele kunste is Sandra Hanekom.

. Dit sal vanjaar makliker wees om op hoogte te bly van wat op die Absa KKNK in Oudtshoorn gebeur danksy ’n nuwe digitale platform.

Die nuwe webblad, absakknk.co.za, sal daagliks opgegradeer word met stories oor bekendes, produksies, herinneringe van vorige feeste en enige ander belangrike feesinligting. Vanjaar se feesprogram is ook hier te kry.

Die KKNK het ook ’n teenwoordigheid op sosiale media met ’n Facebook-profiel, Twitter-rekening en ’n kanaal op YouTube.

Die webblad is spesiaal geskep met slimfone in gedagte, wat beteken dit sal van enige plek beskikbaar wees vir mense met sulke fone.

 

Wie is Rhodé Snyman?

Rhodé Snyman, waarnemende uitvoerende hoof van die Absa KKNK, was in 1994 al betrokke by die voorlopige gesprekke in die aanloop tot die totstandkoming van dié fees.

In daardie stadium was sy nog redakteur van die Oudtshoorn Courant.

In 1996 is sy as assistent van Pieter Fourie, die KKNK se eerste uitvoerende hoof, en Karen Meiring, die eerste fees-direkteur, aangestel.

Sy was ook die fees se eerste mediaskakelpersoon en is daarna bevorder tot bemarkingshoof en later tot korporatiewe bestuurder.

Tot die vertrek einde verlede jaar van Brett Pyper, die vorige uitvoerende hoof, was sy bedryfsbestuurder.

Die aanstelling van die nuwe uitvoerende hoof word in Maart aangekondig.

 

Lees hierdie en ander kuns stukke by: http://www.beeld.com/vermaak/2014-01-27-kknk-n-2-dekades

2018-10-23T17:07:10+00:00