Kunsklasse terug na skole

Beeld | Johan Myburg:

 

 

‘Kunsopvoeding word weer deel van die skoolkurrikulum,” het Paul Mashatile, minister van kuns en kultuur, by navraag aan Beeld gesê.

Paul Mashatile

Hy het gesê daar is heelwat hindernisse om dié ideaal te bereik, maar benadruk dat dit ’n wesenlike deel is van die departement van kuns en kultuur se Mzansi Golden Economy-strategie wat in 2011 aangekondig is om werkgeleenthede in die kuns-en-kultuurwêreld te skep.

Die belang van kunsopvoeding is volgens Mashatile tweërlei: Aan die een kant moet dié opvoeding leerlinge voorberei vir ’n moontlike loopbaan in die kunste, maar aan die ander kant moet dit ook bydra tot gehoorontwikkeling.

“Ten opsigte van laasgenoemde is visuele geletterdheid byvoorbeeld ’n aspek wat aandag moet kry,” het hy gesê. “Dit is iets waarop te min gefokus word.”

Omdat die meeste onderwysers in openbare skole nie die formele bevoegdheid, ervaring of in sommige gevalle die nodige geesdrif het vir sodanige opvoeding nie, het die departement onder meer kragte saamgesnoer met die departement van basiese onderwys om dié probleem te oorbrug en vorendag gekom met die “kunstenaars in skole”-projek.

Volgens Monica Newton, die departement se adjunk- direkteur-generaal vir kuns-en-kultuurbevordering en -ontwikkeling, is dié projek in 2012 op klein skaal met sowat 75 deelnemers begin.

Tans is 160 kunstenaars betrokke as fasiliteerders in sowel laer- as hoërskole. Teen die einde van die jaar behoort sowat 200 betrokke te wees.

Dié skole is in landelike gebiede soos Wushwini by KwaNgcolosi, oos van Durban; Nyanga, Langa en Kha­yelitsha naby Kaapstad; Vhembe in Limpopo; en KaNyamazane en Barberton in Mpumalanga.

Volgens Newton word organisasies in die omgewing van die skole, soos gemeenskaps­kunssentrums, provinsiale kunste-en-kultuurrade en nieregeringsorganisasies, gebruik om kunstenaars vir die projek te identifiseer.

Die kurrikulum dek vier genres: musiek, drama, die visuele kunste en dans.

Ander projekte wat spruit uit die samewerking tussen die departemente kuns en kultuur en basiese onderwys is onder meer die jaarlikse Suid-Afrikaanse skoolkoor- eisteddfod (SASCE), die Segarona-kunstefees en die Ngoma- tradisionele musiek-en-dansfees.

 

Lees hierdie en ander interesante stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-02-05-kunsklasse-terug-na-skole

2018-10-23T17:07:26+00:00