fbpx

Kunste laat stadskom dié week lééf

Die Burger | Willem de Vries:

 

Kaapstad. – Kaapstad is ’n stad van beloftes én uitdagings.

“Dit is ’n verdeelde, problematiese stad. Dit is boaan die New York Times se lys van voorkeurbestemmings vir toeriste en dit is ’n stad beleër deur endemiese armoede en ekonomiese onstabiliteit.” Vir die jaarlikse stadfees Infecting the City put kunstenaars hieruit en bied ’n vierende en kritiese blik daarop.

Jay Pather

Só sê Jay Pather, hoof van dié fees van openbare kuns wat tot 15 Maart in die stad aangebied word. Die fees waarby plaaslike en internasionale kunstenaars betrokke is, het verlede jaar 27 000 mense bereik. Die kunstenaars tree in gesprek met die talle geskiedenisse, strukture en ruimtes waaruit die stad bestaan.

Internasionale kunstenaars “bring ’n ander kulturele blik en vlak van kundigheid, dus is daar baie om na uit te sien”, sê hy.

“Brian Lobel van Brittanje sal mense nuuskierig maak met sy Purge wat insluit dat die gehoor vir die speler [Amy Jephta] se ‘Facebook-vriende’ stem nadat sy ’n saak vir hulle teenwoordigheid uitgemaak het.

“Die werk bevraagteken die waarde van elektroniese vriende en die geloofwaardigheid van sosiale media.

“Da Motus is ’n dansgeselskap van Switserland wat werk met openbare ruimtes oor die wêreld heen en hulle bring hul gevierde werk hierheen, so ook Cie Retouramont, ’n geselskap van lugkunstenaars van Parys.

“Daar is ook Pedro Busamante se Primary Accumulation en Alien Oostig se Surveillance van Berlyn, albei hoogs uitdagende politieke werke.”

Ongeveer 50% van die meer as 50 werke sal hul première beleef of is opdragwerk vir die fees.

Interdissiplinêre werk – soos visuele kunstenaars en uitvoerende kunstenaars wat saamwerk – is ’n kenmerk van die fees.

“Die interessante samewerkingstukke is die nasionales en internasionales. Die Kanadese dansgeselskap anandam werk byvoorbeeld saam met plaaslike uitvoerende kunstenaars, die Switserse geselskap Da Motus werk saam met ’n geselskap van Johannesburg en so meer. Dit bied ryke stof.”

Toe die fees in 2008 die eerste keer aangebied is, het dit ongeveer 5 000 mense bereik, verlede jaar het dit tot 27 000 gestyg.

Die meeste programme volg roetes. Mense kan om 12:00 opdaag by die beginpunt van ’n roete vir die dagroetes en om 18:00 vir die aandroetes, en sal van werk tot werk geneem word.

Programme word herhaal sodat mense twee geleenthede het om die meer as 50 werke te sien.

’n Interessante byvoeging vanjaar is die “verkenner”-program wat op 13 Maart om 12:00 plaasvind, waar mense aan interaktiewe werke kan deelneem, soos Steal My Photograph van die Duitse kunstenaar Lukas Renlund en Smellscapes van Tammy Fraser, sê hy.

“Daar is ook ’n wonderlike oudio-toer op dié program genaamd Cosi-Cosi wat jy kan aflaai en dan die aanwysings volg op jou oorfone en Kaapstad ontdek aan die hand van antieke en kontemporêre verhale en musiek.

“Ingesluit by die groot program is ’n begeleide toer van ’n uitstalling, naamlik Store Front and Centre, wat gebruik maak van leë winkelvensters in die Goue Akker-inkopiesentrum as galerye vir werke deur ’n verskeidenheid van kunstenaars soos Francis Goodman tot Athi Patra Ruga.”

Die program is ontwerp om gehore aan te moedig om die stad se private en openbare ruimtes te ontdek, te definieer en te ervaar.)

Die fees is gister voor die Iziko Suid-Afrikaanse Kunsmuseum in die Tuine bekend gestel. Besoek ​www.infectingthecity.com vir die volledige program.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-03-11-kunste-laat-stadskom-di-week-lf

2018-10-23T17:08:28+00:00