Kunstenaarsruimtes onder loep op KKNK

Beeld | Johan Myburg:

 

Drie feeskunstenaars wys nog tot Sondag in Oudtshoorn meer as net hul werk – ook hul ateljeeruimtes.

Besoekers kry vanjaar op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees ook ’n blik op ’n gerekonstrueerde weergawe van die werkplekke, werkbenadering en praxis van ­Willem Boshoff, Gordon Froud en Louis Jansen van Vuuren.

Gordon Froud. Prent: Kunstenaar

“Die kunstenaarsateljee is nie ’n generiese werkruimte nie, maar ’n verlenging van die kunstenaar se denke, emosies en interaksie,” het Sandra Hanekom, dié fees se kurator van die visuele kunste, onlangs aan Beeld gesê.

Boshoff se uitstalling heet Big Druid in his Cubicle, Froud s’n A Retrospective of Exhibitions I Never Had en Jansen van Vuuren s’nOogwink: ’n Kunstenaarsblik.

Benewens die feit dat Boshoff beskryf word as ’n konseptuele kunstenaar, kom “druïde” ál meer na vore in takserings van dié presiese kunstenaar.

Só is hy genoem toe hy in 2009 deelgeneem het aan die Basel-kunsskou in Switserland en hy as “druïde” vir die duur van die skou in ’n klein vertrek in die uitstalruim geleef en geslaap het. Iets van dié uitstalling, ook genoem Big Druid in his Cubicle, het in 2010 gestalte gekry toe Boshoff ’n maand in die Nirox-galery in Arts on Main, Johannesburg, gewoon het. Einde verlede jaar is dié uitstalling in die Smac-galery in Kaapstad herhaal.

Waarskynlik is dit dié kunstenaar-in-sy-ateljee wat Hanekom op die spoor gekry het om dié gesprek uit te brei en Froud en Jansen van Vuuren te betrek.

Wat Froud gaan vat en wat hy gaan los, kan net interessant wees. Gevonde voorwerpe het vir dié veelsydige kunstenaar die bekoring wat blink goed vir ’n kraai het.

Die verskil is dat Froud nie net versamel nie, maar voortdurend aanpas, interpreteer, herwin en nuwe modulasies tot stand bring.

Sy bydrae tot die groepuitstalling Tension Torsion: 20 ­Years On – tot 17 April in die Ithuba-galery in Braamfontein, Johannesburg – spreek hiervan, maar ook van sy kuratoriale ervaring.

Vir dié uitstalling gebruik hy tamaai afdrukke van kunswerke op PVC wat hy styf gespan het, onder meer Ya­khal’inkomo (“Kreet van ’n swart man”), die werk van Ayanda Mabulu wat opslae gemaak het op verlede jaar se Joburg Art Fair, en Yiull Damaso se eietydse interpretasie van Rembrandt se Die anatomie-les waarmee hy in 2010 aandag getrek het. Aan die hand van dié werke belig Froud die onderliggende spanning wat (steeds) bestaan tussen kuns en die owerheid.

Jansen van Vuuren woon al sedert 2000 op die Franse platteland, maar stal gereeld in die Kaap uit.

Vroeër die maand het Blink/Oog(wink), ’n uitstalling van onlangse werke, in Stellenbosch begin.

Sy KKNK-aanbod bestaan uit ’n versameling onlangse portrette, ’n uitstalling van werk van nege kunstenaars met Jansen van Vuuren as die kurator, en ’n herskepping van sy werkruimte.

 

Die KKNK duur tot 5 April.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-03-30-kunstenaarsruimtes-onder-loep-op-kknk

2014-03-31T00:00:00+00:00