fbpx

Maskers van optelgoed

Beeld | Johan Myburg:

 

Retha Buitendach het ’n oog vir “gevonde voorwerpe”, vir onverwante goed wat sy byeenbring in haar kunswerke en in die proses gestalte gee aan geloofwaardige dog onmoontlike kreature.

Noko die vegter-kampion van die ondergrondse ligsoldate, gevonde voorwerpe

In vorige werk het sy sade en peule en wat nog gebruik om “insekte” te maak wat sterk herinner aan dié soort wat jy in glaskaste in ’n natuurhistoriese museum sou aantref.

Haar jongste werk in Mombakkies herinner aan die soort werk wat ’n mens sou sien in die eertydse Musée de l’homme, nou die Quai Branly, in Parys.

Dit was juis tydens ’n kunstenaarsverblyf verlede jaar in Parys waar die maskergogga Buitendach getakel het. Vir ’n uitstalling daar moes sy binne ’n maand werk maak.

“Oudergewoonte kon ek nie help om objekte en junk in die strate op te tel nie en ek wou dit graag in my projek gebruik, maar was onseker presies wat om te doen,” sê sy.

“Ná ’n besoek aan die Musée du Quai Branly was ek so geïnspireer deur die maskers en objekte daar wat gewoon gemaak is uit dit wat daardie mense om hulle gehad het, dat ek besluit het om dit wat ek om my vind ook in maskers te gebruik.

“Ek het die projek Junk Art Voodoo genoem en slegs objekte wat ek op straat opgetel het, gebruik.”

Vroeg in die 1900’s het maskers, dikwels van Afrika, ’n sterk invloed gehad op Europese kunstenaars (dink veral aan Picasso). Dié invloed het neerslag gevind in indertydse skilderkuns sowel as beeldhouwerk.

Is daar ’n neiging om ’n 100 jaar later maskers op- nuut in die oog te kry?

Buitendach sê sy is verras om te sien hoeveel maskerfeeste daar jaarliks wêreldwyd gehou word. Benewens die bekendes in Venesië en Mexiko vind daar volgens haar ook interessante feeste in België, Hongarye, Kroasië, Griekeland, Bolivia en Tsjeggië plaas. “Ek is veral gefassineer deur die maskers uit Groenland en dié van die Inuït,” sê sy.

Boonop is daar wêreldwyd hedendaagse kunstenaars wat doenig is met die tema van maskers uit hul eie kultuurverlede.

Een van hulle is die Beninees Romuald Hazoumé, wat sy maskers gemaak van leë plastiekkanne in Londen en New York uitstal. Oor sy werk sê Hazoumé: “Ek stuur aan die Weste dít terug wat aan hom behoort – die rommel van ’n verbruikersamelewing wat ons daagliks oorval.”

Dié siening van Hazoumé is dalk verwyderd van die tradisionele siening van maskers as die instrument waardeur die geestelike wêreld toeganklik gemaak word.

“Per definisie is ’n masker iets wat jou verby jou eie identiteit vat en ’n brug skep tussen die gewone wêreld en die magiese,” sê Buitendach.

“Hierdie aspek is nie doelbewus deel van my maskers nie, maar dit kan wel insypel, afhangende van die toeskouer.”

 

Hoe jy ook daarna kyk, in Buitendach se speelse mombakkies blyk die magiese reeds uit die identifisering van die voorwerpe wat sy gebruik: dryfhout, skulpe, ou stukke gereedskap en goed wat selfs Hospice nie meer wil hê nie.

. Buitendach se Mombakkies is nog tot Woensdag te sien. Vandag om 11:00 gee sy ’n rondleiding in die galery. Navrae: 012 346 3100

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-03-15-maskers-van-optelgoed

2018-10-23T17:08:40+00:00