Materiaal en tegniek voer kunsgesprek

Die Burger | Cobus van Bosch:

Linear Perspectives, ’n solotentoonstelling deur Wim Botha

Wat ’n mens gewoonlik bybly van Wim Botha se kuns, is daardie kragtige wisselwerking tussen tegniese vaardigheid en ontginning van materiaal teen die agtergrond van dramatiese mitologiese vertellings in die styl van veral die Klassisisme en Barok.

Die bronswerk “Prism 10 (Dead Laocoön)”.

Botha, ’n veelbekroonde kunstenaar wie se werk al wêreldwyd vertoon is, is veral bekend vir sy beelde gekerf uit boekstapels, maar ander materiale soos mieliepap, marmerpoeier, beenmeel en, veral die laaste paar jaar, polistereen, neonbuise en riffelkarton, span hy net so geredelik in soos meer tradisionele hout- en brons-mediums. Nie net as beeldhouer is Botha ’n bedrywige kunstenaar nie, maar ook in meer tweedimensionele tradisies soos skilder, drukkuns en teken.

Trouens, teken is ’n vername komponent van hierdie tentoonstelling, ruweg aangebied in drie installasies – groeperings van werke waarvan die meeste ook op hul eie sal kan staan. Delikate hale in dun verf en fyn lynwerk op papier dien nie net as studies vir die beeldhouwerke op die vloer nie, maar geraam en in groepe kry dit ’n ritme en dinamiek met ’n eie identiteit.

Drama en energie is dikwels ’n sentrale aspek van Botha se werk, van lydende Christusfigure aan die kruis tot drukgrafika wat kernontploffings uitbeeld. Hiervan is daar minder te sien op hierdie tentoonstelling, buiten natuurlik die pronkstuk, “Dead Laocoön”, ’n verwerking van die beroemde klassieke beeld “Laocoön en seuns”, ontdek in 1506 en tans in die Vatikaan.

Hierdie werk, op dieselfde skaal, maar waarin die oorspronklike detail vereenvoudig is tot komposisies van vlakke wat die oorspronklike beeld se energieke beweging vasvang, is aanvanklik gekerf uit polistereen met ’n instrument wat Botha self bedink het om ’n vinnige en bykans spontane werkproses te bewerkstellig. Die beeld is daarna in brons gegiet en swart geverf. Volgens die Stevenson-galery is ’n tweede gietsel ingesluit in die tentoonstelling The Divine Comedy later vandeesmaand in die Museum vir Moderne Kuns in Frankfurt.

Van Botha se gewilde boekstapel-beelde is daar ’n aantal, asook borsbeelde in hout en ook marmer, ingevoer van Italië. Die wit marmerwerke staan in sterk kontras met minder duursame materiale soos hout en selfs swartgeverfde riffelkarton – van laasgenoemde is daar ’n dramatiese komposisie van vlerkvorms in vlug.

Botha gesels maar min oor enige betekenisse in sy werk, en ’n mens kry die idee dieplopende teorieë is in elk geval van minder belang as die kunsmaakproses, die visuele skouspel van die beelde en natuurlik die gesprek tussen kunswerk en uiteenlopende materiale.

Dus verbloem Botha geensins die onderbou van werke (boute, klampe, ens.), asook die proses (kerfhale en onvoltooide gedeeltes) en aard van die materiaal (rugkante van boeke) nie – dit word trouens opsetlik as deel van die ervaring aangebied, en gee sy kuns ’n onmiddellikheid en spontaneïteit teenoor die gepoleerdheid van die klassieke style waarna dit dikwels verwys.

Dis egter ook hierdie interaksie tussen ’n kontemporêre aanslag en ’n kopknik na eeue-oue kunstradisies wat Botha se werk visueel en inhoudelik so aangrypend maak.

 

Lees hierdie en ander kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-03-09-materiaal-en-tegniek-voer-kunsgesprek

2018-10-23T17:08:25+00:00