Muholi visuele aktivis sonder weerga

Beeld | Johan Myburg:

 

 

Of Love & Loss – Zanele Muholi

Stevenson, Johannesburg

 

ZaVa, Arles (2013), een van Zanele Muholi se werke in die Stevenson-galery.

Verlede jaar het Zanele Muholi wyd erkenning gekry vir haar foto’s en spesifiek vir Faces and Phases, ’n voortgaande projek waarin sy swart, lesbiese vroue portretsgewys dokumenteer.

’n Keur van dié projek is onder meer op die 55ste Venesiese biënnale vertoon en op Dokumenta 13 in Kassel, Duitsland.

Sy het die Index-prys gekry, toegeken deur ’n internasionale organisasie wat die reg op vryheid van uitdrukking voorstaan en beskerm; sy het die gesogte Amerikaanse Fine-kunsprys ontvang; en is aangestel as ereprofessor aan die kunste-universiteit in Bremen, Duitsland.

Verlede Vrydag het sy in Johannesburg die Prins Claus-prys van André Haspels, Nederlandse ambassadeur, ontvang.

Dié het sy gekry vir haar “visuele verkenning van gender, seksualiteit en ras waarmee sy sosiale konvensies bevraagteken en die strydigheid uitwys ­tussen regeringsbeleid en die daaglikse werklikheid van ­homofobie”.

Die einste Muholi se foto’s het in 2011 ’n storm ontketen toe Lulu Xingwana, destydse minister van kuns en kultuur, haar werk as “immoreel” en “teen die grein van nasiebou” beskryf het.

Die Of Love & Loss-foto’s wat in die galery-konteks iets laat blyk van ’n blik op ’n intieme foto-album, het gewis trekke van die guitigheid van troues met baie satyn en ringe én onderliggende spanning. Die aanwesigheid van (vrolike) mense staan op die oog af in kontras met dié van afwesigheid soos verbeeld in die weemoed wat voorop staan in die ZaVa-reeks, veral ZaVa, Arles (2013).

Maar inderwaarheid het dié twee uiterstes, dié binêre teenoorgesteldes, meer gemeen as wat jy wil vermoed. Of jy jubel en of jy treur, dis net in veiligheid en geborgenheid waar ’n mens dit wíl en kán doen.

Maar dit is nie ’n gegewe wat swart, lesbiese vroue ervaar nie. Dit is nie die wêreld waarin hulle woon nie – nie as hulle die prooi is van moordenaars en/of verkragters wat meen verkragting (“curative” rape) kan dié vroue se seksuele oriëntasie verander nie. En dit is daardie ongemaklike plek op die kontinuum waaraan Muholi so meesterlik gestalte gee.

Visuele aktivis wat sy is, maneuvreer sy as’t ware die spanning tussen “love & loss”. Net soos sy die spanning tussen die Grondwet, wat onder meer huwelike tussen mense van dieselfde geslag erken, en die onverdraagsame Suid-Afrikaanse werklikheid teenoor mekaar afspeel. Tussen hierdie uiterstes fokus Muholi onverpoosd haar lens en vergestalt sy iets van ’n vrye spel.

As Afrika-lande toenemend homofobies raak en wetgewing deurvoer wat anti-homoseksueel is, klink Muholi se stem klokhelder op téén sulke vergrype. Sy het ’n onuitwisbare argief foto’s tot stand gebring wat sal blý getuig dat lesbiese, gay, biseksuele, transgender- en interseks-gemeenskappe nie “on-Afrika” is nie.

Tot 4 April

 

Lees hierdie en ander kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-02-20-muholi-visuele-aktivis-sonder-weerga

2018-10-23T17:08:00+00:00