fbpx

Naidoo se kontrak nie hernu

Die Burger | Laetitia Pople:

 

Kaapstad. – Die kontrak van Riason Naidoo, die man wat dit durf waag het om die werke van Tretchikoff in die Iziko SA Nasionale Kunsmuseum te wys, is nie hernu nie.

Riason Naidoo

Riason, wat die amp van direkteur: kunsversamelings van die Kunsmuseum en die Ou Stadshuis-museum beklee het, moes sy kantoor op 30 April ontruim nadat sy ampstermyn van vyf jaar verstryk het. Hy was dikwels in omstredenheid gedompel.

In ’n mediaverklaring betreur hy dit dat sy kontrak ondanks talle plaaslike en internasionale tentoonstellings onder sy direkteurskap nie verleng is nie. “Dis vir my ’n groot skok,” het hy gister gesê. “Ek het in April navraag gedoen en gehoor ek ‘moenie verwagtinge koester nie’.”

In die verklaring bestempel hy Iziko se besluit as onregverdig en sê hy gaan die saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) neem.

Hy het gesê hy en sy span het ondanks “moeilike omstandighede en beperkte bronne baie by die SA Nasionale Kunsmuseum en met die Iziko-kunsversamelings bereik”.

Sy eerste groot projek was die oorsigtentoonstelling 1910-2010: From Pierneef to Gugulective, wat ’n omvattende en diverse blik op ’n eeu van Suid-Afrikaanse kuns gebied het. Om dié werke te hang, het hy werke afgehaal wat die mynmagnaat en politikus sir Abe Bailey aan die museum bemaak het. Dit sluit werke deur die Britse meesters J.M.W. Turner, Thomas Gainsborough en Joshua Reynolds in. Volgens die Bailey-stipulasie moet dié werke te alle tye deels of in die geheel vertoon word.

Ondanks dié omstredenheid is hy genooi om by talle internasionale instansies, waaronder die Tate Modern in Londen en die Museum of Modern Art in New York, praatjies oor die tentoonstelling te lewer.

In sy verweer benadruk Naidoo dat besoekerstalle vir dié oorsig­tentoonstelling in Iziko met 67% en vir Tretchikoff met 106% gestyg het.

Belangrike werke deur onder andere die onlangs ontslape Peter ­Clarke, Lionel Davis en Noria Mabasa is onder sy direkteurskap aangeskaf, asook werke deur talle eietydse kunstenaars soos Athi-Patra Ruga, Pierre Fouché en Cameron Platter.

Teen druktyd was Rooksana Omar, die uitvoerende hoof van Iziko-museums, steeds in ’n vergadering en kon nie op e-pos-navrae of op ’n oproep reageer nie.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-05-09-naidoo-se-kontrak-nie-hernu

2014-05-13T00:00:00+00:00