Omset beloop R183 m

Die Burger | Laetitia Pople:

 

Kunswerke haal rekordpryse.

Kaapstad  – Die afslaer Strauss & Kie. se omset het verlede jaar met 19,3% gegroei en beloop R183 miljoen.

Wolf Kibel, Houses with Red Roofs

Dit is sy tweede hoogste omset in sy vyf bestaansjare, luidens die afslaer se jaarverslag.

Verlede jaar is 3 000 lotte ­gehanteer en nuwe wêreld­rekords is opgestel vir die ­gevierde Suid-Afrikaanse ­kunstenaars Wolf Kibel, Gwelo Goodman, Jane Alexander en Penny Siopis .

Kibel se olieverfskildery Houses With Red Roofs het sy vorige rekord verdubbel en is vir R3 564 800 verkoop. ’n Selfportret van Kibel is in 2009 vir R1 225 400 verkoop.

’n Pastelskets getiteld ­Imaging van die kunstenaar Penny Siopis wat van 1989 dateer, is vir R668 400 ­verkoop – dit is meer as 300 keer die verwagte prys.

In November verlede jaar is die beeld Untitled van Jane Alexander vir ’n verstommende R5 miljoen verkoop. Nie alleen was dit ’n rekordprys vir kontemporêre kuns in Suid-Afrika nie, maar ook vir plaaslike beeldhoukuns en ’n rekord vir die Kaapse kunstenaar. Die ­verwagte prys was tussen R2 miljoen en R3 miljoen.

Drie bieërs het mekaar die stryd aangesê vir hierdie ­kunswerk wat deel was van haar gesogte reeks Butcher Boys. Dit word in die Iziko- ­Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad gehuisves.

Alexander het die reeks as student aan die Michaelis-kunsskool geskep.

Dit verbeter die rekord wat in 2010 met die beeld Bad News van Anton van Wouw opgestel is toe dit vir R2,2 miljoen ­verkoop is.

Ander belangwekkende ­werke wat verkoop is, is Cecil Skotnes se The Last Supper vir R1 818 880 aan ’n versamelaar wat die werk in die openbaar gaan ten toon stel en Ruth Prowse se The Bluff Durban wat meer as ’n kwarteeu gelede in ’n vullisdrom in Laingsburg gevind en vir R55 700 verkoop is.

Benewens kuns is meubelment en dekoratiewe kuns verhandel, waarvan die private versameling Kaapse meubels van dr. Bothma Buitendag en dr. Johan Bolt uitgesonder kan word. ’n Kaapse Weskus-sederhoutkas met inlegwerk is vir R690 680 verkoop. Die ont­werper Chris Levin se Vintage Couture is ook deur die afslaer verkoop.

Verlede jaar is Strauss On­line geloods wat kunswerke aan ’n groter mark blootstel.

Altesame R805 000 is ook in­gesamel vir Diane Victor op ’n spesiale veiling ten bate ’n nieroperasie vir die kunstenaar.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-02-13-omset-beloop-r183-m

2018-10-23T17:07:39+00:00