fbpx

‘Opgaarder’ wys sy kuns

Die Burger | Murray La Vita:

 

 

Oudtshoorn. – Gordon Froud, een van die feeskunstenaars op die Klein Karoo ­Nasionale Kunstefees hier, dra ’n hemp waarop ’n halfnaakte vrou lê, terwyl vlamme van onder boontoe lek.

Gordon Froud by “Blue ­Cone Virus”. Dit bestaan uit groot blou plastiek­keëls wat in myne gebruik word en só saamgevoeg is dat dit soos ’n virus lyk. Foto: DEON RAATH

Sy tentoonstelling heet A ­Retrospective of Exhibitions I Never Had. Dit bestaan uit meer as 80 werke in onder meer brons, keramiek, fotografie, drukkuns en tekeninge. Van sy ­boeke, CD’s en DVD’s is ook te sien. “Die idee was dat ek ’n deel van my ateljee uitstal. My ateljee in ­Johannesburg is 350 m² groot, en daar is ’n duisend keer meer goed as wat hier is.”

Hy wys na ’n boekrak: “Hierdie is byvoorbeeld ­­du­pli­kate van van my boeke oor ­Alice in Wonderland.” Hy het meer as 900 boeke en ­objekte wat met ­Alice verband hou. “Ek het ook ’n klein deel van my ­mu­siekversameling van meer as 4 000 CD’s ­ge­bring. Ek het byvoorbeeld Jo Jackson saamgebring. En David Kramer. Gister het ek na sy Karoo Kitaar Blues ­geluister, en hier stap hy in. Hy het breed geglimlag.

“Ek is nogal ’n opgaarder van dinge. As ek dus van iets hou, soos David Bowie se ­musiek, dan koop ek al die albums. Dieselfde geld klere. As ek van ’n sekere kledingstuk hou, dan koop ek die hele reeks. Met die hemde het ek besluit om dit in ’n per­for­mance-stuk te omskep. Ek dra elke dag ’n ­ander vlammende hemp. As jy my dus in die straat sien loop met dié hemp aan, bring dit jou gedagtes terug na die tentoonstelling. Dis ’n manier waarop ek mense se psige probeer infiltreer en hulle dwing om my en my werk te onthou.

“Ek doen dieselfde met gevonde voorwerpe soos plastiek-klerehangers [waaruit hy ’n groot kandelaar geskep het]. Jy sal nooit weer ­verby een van daardie mense wat die ­hangers op straat verkoop, ry sonder om aan my werk te dink nie.”

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-04-05-opgaarder-wys-sy-kuns

2014-04-07T00:00:00+00:00