Portretkuns bly uitdaag

Die Burger | Laetitia Pople:

 

Die Kaapse visuele kunstenaar Jan du Toit wys intieme portretkuns op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Laetitia Pople het met hom gesels.

Op sy voorstoep het die kunstenaar Jan du Toit die bergkolos en op sy “agterstoep” die toppe van ­bome en die see wat ver glim.

Jan du Toit in sy ateljee omring deur sy werke wat op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees te sien is. Foto: Edrea Cloete

Die ryk reuk van olieverf hang in die lug, maar dit is nie hoekom jy op sy drumpel vassteek nie. Dit is sy reuse-kunsversameling en objekte wat die oë laat bokspring.

Van dak tot vloer hang ­werke van Christo Coetzee, Johannes Meintjes, Cecil Skotnes en Johann Louw.

In volgepakte kaste is kosbare keramiek van die Ming-periode tot die Ardmore-kera- miek­ateljee en fyn porseleinkoppies wat bykans 200 jaar oud is.

Du Toit se keurige versameling is oor dekades opgebou. Sy eerste aankoop was reeds op 12 jaar – twee keramiekpotte van die Tulbaghse pottebakker Daan Verwey wat steeds in sy versameling is.

Oplaas draai die aandag na sy tentoonstelling met die ­aspris guitige naam Opklim op die Klein-Karoofees.

Hierin is die versweë ­geskiedenis van Suid-Afrika vervat. Hy gaan haal dit ver, in 1649. Catharina (Opklim) van Bengale was die stammoeder van sy oumagrootjie, ’n nooi Vermeulen wat met ’n Giliomee getrou het. Sy het haar stammoeder, ’n slavin, se naam met trots as doopnaam gedra, vertel hy.

Hoewel die name of geskiedenis aanvanklik maar liefs verswyg is, bring Du Toit dit “regstellend” onder die ­aandag met Opklim, ’n ondersoek na die miskende, ­oor­gesiene individue in sy ­onmiddellike omgewing.

“Mense wat ek herhaaldelik hier in Tamboerskloof en omgewing raakgeloop en as mens leer ken het, soos Tashreeq, ­Ashaad en Rashid.”

Hy het hulle begin skilder in stil meditatiewe ruimtes met die voorwerpe uit sy ­versameling. Die portretkuns bly vir hom ’n uitdaging.

“Al sien jy ’n mens elke dag, is daar altyd iets in die gesig wat jy nie raaksien nie.” Die uitdaging bly “om ­iemand vas te vang in ’n ­sekere tyd in sy lewe” .

“Dit is soos ’n dagboek­inskrywing van die presiese gemoed­­stemming van die ­sitter.”

Hy bestempel portretskilder as ’n leersame proses. “Uiteindelik leer jy ’n ander ­persoon ken en dit vergroot jou verwysingsraamwerk.”

Die teelaarde vir sy werk gaan haal hy ver terug, sy liefde vir geskiedenis deurspek alles. Hy lê verstommende historiese verbande tussen sy vertellings, oral staan geskiedenisboeke hoog gestapel.

“As skilder sit ek die gay­tema voort. In 1938 het die digter I.D. du Plessis sy liefde vir ’n Moslemman in die gedig ‘Vreemde liefde’ besing. Ek vind ook aanklank by die werk van Johannes Meintjes wie se ateljee in Buitengracht aan die Bo-Kaap gegrens het.

“Hy het bruin mans en straatmusikante van die ­Bo-Kaap as individue ge­han­teer, nie as tipes of een­sel­wige groepe nie.”

Hy verwys ook na die ­invloed van Alexis Preller wat die “nostalgiese verlange” ­onbeskroomd uitgelig het.

“Ek soek soortgelyke ­parallelle met die lewe nou.”

Du Toit se figure is in donker omhul met ’n enkele ligprik. Tog is die swart nie ­solied swart nie, maar van naderby skyn kleure deur. Hy verwys na die natuurlike pigment wat hy tydsaam meng en vermeng om dié gehalte te kry. Dié aanslag in sy werke is geïnspireer deur die 19de- eeuse Spaanse skilder El ­Greco en die 16de-eeuse Ita­liaanse meester Caravaggio.

Du Toit het op die druiweplaas Klipfontein by Tulbagh grootgeword. Ná vyf generasies Du Toits moes dit ­ver­koop word, omdat hy nie in boerdery belang gestel het nie. In die 18de-eeuse historiese plaasopstal het sy liefde vir die geskiedenis ontstaan.

Hy lê sy kunstige voor­moeders aan sy ma se kant uit. Dit is daar waar sy kuns ­vandaan kom. “My grootjie het in die Victoriaanse tyd voëls opgestop, wat nie staties is nie, maar in vlug!”

’n Ander ouma het klere sonder patrone gemaak.

“Waar daar geleentheid was om kuns te beoefen is dit met oorgawe gedoen. Ek was in ’n huis waar ’n blom nog geráng­skik is.” Hy was die eerste van sy geslag wat hom in die stad gevestig het.

Ná sy skooljare aan die ­Hoërskool Jan van Riebeeck, het hy kunsopleiding onder Johann Louw by ’n kunsskool in Obser­va­tory ontvang.

Hy sonder Christo Coetzee as ’n vormende invloed op sy kuns uit. Ná Coetzee se dood het hy ’n tyd lank in sy ateljee op Tulbagh gewoon en geskilder. Hy het ook ’n hegte vriendskap met die kunstenaar Ferrie Binge-Coetzee, Coetzee se weduwee, gehad.

Hy wys na ’n windskerm beskilder deur Coetzee. “Hy was sy tyd ver vooruit en ek dink, misken. Sy werke is steeds op die snykant en kan steeds enige plek in die ­wêreld sterk staan.”

  • Opklim is in die Prince Vincent-gebou in Baron van Reedestraat te sien.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-04-03-portretkuns-bly-uitdaag

2014-04-04T00:00:00+00:00