fbpx

Sake besef waarde van kuns – borgskappe groei

Beeld | Johan Myburg:

 

Ondanks die sukkelende ekonomie het die waarde van borgskappe vir die kunste binne twee jaar dubbelsyfergroei behaal.

Dié bevinding is gedoen in navorsing wat Business and Arts South Africa (Basa) onlangs laat doen het oor verbruikersbetrokkenheid by en persepsies oor die kunste en kunsborge.

Michelle Constant

Die tweejaarlikse navorsing is gedoen deur BMi Research en is vervat in Basa se Artstrack Research-verslag.

Volgens die verslag is ’n geraamde R438 miljoen verlede jaar aan kunsborgskappe bestee. Dit is 11% meer as in 2011, toe na raming R394 miljoen bestee is.

In ’n verklaring het Michelle Constant, Basa se uitvoerende hoof, gesê ofskoon die volle omvang van kunsteborgskap in die land nie gemeet kan word nie, “is dit positiewe nuus en dui dit op die gedeelde waarde wat maatskappyborge, kunsprojekte en organisasies uit hul verhoudinge kry”.

Oor ’n koppie koffie het sy egter bygevoeg: “11% is nie genoeg nie”.

Constant is sedert 2008 aan die stuur van Basa, ’n openbare-private vennootskap tussen die sakesektor en die regering. Die oogmerk is die ontwikkeling van strategiese vennootskappe tussen die sakebedryf en kunstesektor in Suid-Afrika en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Dié syfer sal groei namate meer mense besef kuns is die sleutel tot ander vaardighede, ’n oortuiging wat Constant wyd propageer.

“Iets wat die sakesektor toenemend ervaar, is dat die kunste ’n meewerkende, ko-kreatiewe, deelnemende manier bied om deel te wees van ’n gemeenskap.”

Waar die sakebedryf die kunste vroeër nog gesien het as deel van korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid, word die kunste nou gesien as ’n gelyke vennootskap wat waarde skep.

Dis dié vennootskap, sê Constant, wat kan bydra tot groter waardering van die kunste in die gemeenskap.

Daarbenewens meen sy die kunste bied aan die sakesektor toegang tot emosionele intelligensie (EQ) sowel as kulturele intelligensie (CQ).

Sy verwys onder meer ten opsigte van onderwys na die benadering van die Ford-stigting dat onderwys gemik moet wees op “die hele kind” – 50% kuns en 50% sport – en skaar haar by die “Steam”-benadering van die Rhode Island-ontwerpskool in die VSA.

“In plaas van die klem op wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde van die “Stem”-benadering (science, technology, engineering, mathematics) maak die byvoeging van ’n A vir arts net soveel meer sin,” sê Constant.

Die Rhode Island-skool voer onder meer aan dat die kunste vir die 21ste eeu kan doen wat wetenskap en tegnologie vir die 20ste eeu kon doen.

“Die ideaal is eintlik dat alle staatsdepartemente ’n kuns-en-kultuurafdeling moet hê,” sê sy met oortuiging.

“Die vaardighede wat die kunste mense kan leer, is nie minder waardevol as dié van rekeningkunde of wetenskap nie.”

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-06-09-sake-besef-waarde-van-kuns-borgskappe-groei

2014-06-11T00:00:00+00:00