Uitstallings vier 20 jaar van vryheid

Die Burger:

 

Stellenbosch. – Twee besonderse tentoonstellings ter viering van Suid-Afrika se 20 jaar van ­vryheid, is tans te sien in die Universiteitsmuseum (Sasolkunsmuseum) te Ryneveldstraat 52, Stellenbosch.

Figure Sitting deur Jacques Dhont

Dear Mr Mandela, Dear Mrs Parks – Children’s Letters: ­Global Lessons, asook Vryheid XX: 20 stukke demokrasie sal tot 31 Desember in die ­museum te sien wees.

Inspirasie vir Dear Mr ­Mandela, Dear Mrs Parks is geput uit die honderde ­kinders oor die wêreld heen wat briewe geskryf het aan oudpres. Nelson Mandela en die toe reeds ontslape Rosa Parks, albei wêreldbekend vir hul werk op die gebied van ­menseregte.

Die briewe verklap waarom kinders Mandela en Parks so hoog ag, en plaas klem op jong mense se behoefte aan leiding en lewensinsig.

’n Replika van die uit­stalling is in Januarie 2010 ­tydens die herdenking van Martin Luther King se ­geboorte in die VSA ­geopen. Dié uitstalling deurkruis Amerika tans.

Kunstenaars soos Jacques Dhont, Adriaan van Zyl, Johannes Meintjes en Willie Bester se werke is te sien op die uitstalling Vryheid XX: 20 stukke demokrasie. Dit is deur die museum se personeel saamgestel. Elkeen van die 11 personeellede (behalwe die direkteur) is gevra om ’n werk of werke uit te kies wat die tydperk van 1994 tot 2014 verteenwoordig.

Om meer wisselwerking te bewerkstellig, word ook besoekers en lede van die publiek genooi om demokraties te stem vir die kunswerke van hul keuse. Nadat die keuring gedoen is, het elke personeellid ’n kuratoriale stelling ­geskryf oor hoekom die geselekteerde werke die betrokke tydperk verteenwoordig.

Die gekeurde werke is nie noodwendig in dié tydperk geskep nie, maar verteenwoordig sekere oomblikke of ­hoogtepunte wat die tydperk verteenwoordig.

  •   Skakel 021 808 3691 met navrae.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-05-21-uitstallings-vier-20-jaar-van-vryheid

2014-05-22T00:00:00+00:00