Verganklikheid van lewe op feeste uitgebeeld

Die Burger | Laetitia Pople:

 

 

Stellenbosch – Sy kinderdae, maar ook die gedagte dat hy nou ­naby aan die eindlyn is, is die ­gegewe van die visuele kunstenaar Louis Jansen van Vuuren se jongste reeks kunswerke.

Louis Jansen van Vuuren Foto: VERSKAF

Hierdie werke wat groot portrette insluit, is tans as deel van die US Woordfees te sien in die nuwe Oude Libertas-galery op Stellenbosch en van 29 Maart tot 5 April op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.

Met Oogwink en ander stories herbesoek die kunstenaar sy kinderdae. Hy onthou ’n vergeelde afdruk van die kunstenaar Juan de Valdés se ­vanitas-skildery, (wat dui op die sterflikheid van die mens) wat destyds die jonger Van Vuuren slape­lose nagte besorg het.

“Ek het tóé probeer sinmaak oor die verganklikheid van die lewe – ’n vreesaanjaende gedagte vir ’n jongeling. Noudat ek nader aan die eindlyn kom, is die begrip dat alles in ’n oogwink verloop, ’n werklikheid.”

Voorts put hy vir die tentoonstelling uit die Bybelteks uit 1 Korin­tiërs 15:52:

“By die laaste trompet sal dit in ’n oomblik, in ’n oogknip ­gebeur . . .”wat die vlietende gang en verganklikheid van alles beklemtoon. Dan is daar die behoefte om deur portretstudies die “verby­gaande oomblik te probeer hou al is dit net vir ’n oomblik langer”.

Voorts beeld die werke ook sy ­gedagtes oor die blik van ’n kunstenaar uit: “Dit is tegelyk ’n blik na ­vore, die toekoms in of terug, ­agtertoe, die ewige terugblik.”

Ander temas wat hy met die ­tentoonstelling aanraak, is sy bekoring met die werk van die Suid-Afrikaanse pionier Irma Stern en Vincent van Gogh en ook Parys se brûe.

Media waarin hy werk, sluit in olieverf op linne, akriel en olie op doek, en pastel en gemengde ­medium op katoen en papier.

“Ek hou van die interaksie tussen eietydse prosesse, skandering, ­Photoshop-manipulasie en dan die bywerk in pastel of olie.”

Vir die tentoonstelling het hy ­spesifiek jonger sitters vir die ­portrette gekies.

“Juis omdat hul blik die ‘kyk van die toekoms’ weerspieël.”

’n Vriendin se seun het sy ateljee besoek. “Ek was nie van plan om hom te skilder nie – skielik sien ek iets in sy oë en vra of ek ’n reeks ­foto’s kan neem, die eerste klomp was lomp en selfbewus en toe kom die oomblik. Soos ’n helder kommunikasie of gesprek. Dit duur ’n ­sekonde, maar ek het geweet dit is dié blik waarmee ek wou werk.

“Ek maak dan van die fotografiese bron tekeninge en pastelsketse op klein skaal, wat ek dan op groot skaal in akriel en olieverf trans­formeer. Die 1,8 m x 1,5 m-skaal is verstommend – dit het ongelooflike trefkrag. En ek probeer my fokus hou op die blik in die sitter se oë.’’

Van Vuuren woon deels in Frank­ryk en Suid-Afrika, tans bou hy aan ’n huis aan die Weskus.

“Dis ’n gawe van die gode dat ek tussen die twee hartsplekke kan ­lewe. Frankryk bied my interaksie met Europa, die Weskus gee my grond onder my voete. Die kontras is asembenewend – sagte skaduwees daar, vol pers en impressionistiese nuanses. Hier is dit die sout en die wind en die son wat my hou.”

• Op 12 Maart bied Van Vuuren, die teatermaker Niël Rademan en Edwain Steenkamp ’n woord­musiekprogram om 17:00 in die ­galery aan.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-03-07-verganklikheid-van-lewe-op-feeste-uitgebeeld

2018-10-23T17:08:28+00:00