fbpx

Viering van die kreatiewe oomblik

Beeld | Johan Myburg:

 

In ’n tyd waarin kuns aandag trek vanweë die astronomiese pryse wat op veilings daarvoor betaal word, is dit verfrissend om kuns te sien wat doelbewus nié deur ’n markekonomie nie gedryf word.

Angus Taylor se “Belated Wake II”, ‘n portret in dekgras. Foto: Jade Holing.

Die eerste Johannesburgse weergawe van Site_Specific, die landskapkunsprojek wat in 2010 in Plettenbergbaai begin is en intussen in ’n biënnale ontwikkel het, het op 6 April in die botaniese tuin in Emmarentia begin.

Dié projek, JoziLandArt, is aangevoer deur Chris Reinders met die steun van die landskapkunsstaatmakers Anni Snyman en Heather Cunningham.

Die werk wat die 13 deelnemende kunstenaars in die omgewing van die Podocarpus- (geelhout-) bos in die tuin gemaak het, is nog geruime tyd daar te sien – behalwe waar plante verlep of die publiek se vernielsug die oorhand kry.

Nie dat dít ’n probleem is vir die kunstenaars of die organiseerders nie.

Dit gaan immers oor die kreatiewe oomblik, nie oor permanensie nie. Dit gaan oor die vreugde wat besoekers put uit die kunswerke gemaak van nederige materiaal – soos gras en blare – en nie oor die verkoopbaarheid daarvan en rekordpryse nie.

By die opening het Angus Taylor, die Pretoriase beeld­houer en JoziLandArt se genooide kunstenaar, sy tamaai Belated Wake II aan die Botaniese Tuin “geskenk” – vir so lank die werk behoue bly. Dit is gemaak van gevormde dekgras en kort nadat hy die beeld voltooi het, was daar reeds tekens dat voëls van die gras begin uittrek het vir neste.

In 2010 het Taylor ’n soortgelyke beeld, Klont, vir die botaniese tuin in Potchefstroom gemaak.

“Toe ek byna vier jaar later die beeld wou gaan afmaak – swaartekrag en reën het sy tol begin eis – kom ons agter ’n meerkatkolonie het in die beeld ingetrek. Ons het dit alles net so gelaat,” sê hy.

Daarmee kom ’n nader aspek van landskapkuns soos wat Site_Specific dit aanpak, na vore: om in voeling te bly met die omgewing en eerder saam met die natuur te werk as daartéén.

Verskeie kunstenaars het dié gedagte deel gemaak van hul kunswerke.

Neffens Taylor se werk het Gordon Froud ’n renoster gevleg van takke en loof wat die tuin se personeel van tyd tot tyd snoei. Benewens dat dié dierasie die aandag vestig op die lot van renosters, dien Froud se werk ook as ’n asblik vir rommel.

Sommige van die kunstenaars het meer poëties te werk gegaan.

Sybrand Wiechers het à la Roy Lichtenstein “Crak!” geskryf met die brokstukke van ’n boom wat afgebreek het. Op sy lakonieke manier het hy konteks gegee aan die vraag of ’n boom wat omval ’n kraakslag maak as daar niemand is om dit te hoor nie.

Snyman en vele helpers het met opgetelde blare ’n kleurryke afbeelding van ’n janfrederik gemaak en Musha Neluheni het haar kleim afgesteek deur “Reserved” met wit sand op die grond te skryf.

Die ander kunstenaars wat werk vertoon, is: Yannis Generalis (’n kleurryke en mitiese boominstallasie); Erynne Ewart-Phipps; Angelique Koekemoer; Erica Lüttich; Moira McMurray; Blessing Ngobeni; Sam Nhlengethwa; Chris Reinders; Izanne Wiid; en Colleen Winter.

Sulke kreatiewe beeldhouwerk is tydelik, plekgebonde en nederig en streef weinig meer na as die viering van die kreatiewe oomblik. En die vreugde van die skeppingsproses.

** Besoek die Facebook-blad JOZI Land Art.

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-04-14-viering-van-die-kreatiewe-oomblik

2014-04-17T00:00:00+00:00