Vreemde foto’s skok ná diefstal

Beeld | Lourensa Eckard:

Jason Janneker was geskok toe hy by sy Dropbox-rekening aanteken en foto’s van vreemde mans, ’n kaal vrou en Osama bin Laden daar sien. Janneker se skootrekenaar is in Januarie saam met verskeie ander huishoudelike goedere uit sy huis in Buccleuch, Johannesburg, gesteel.

Jason Janneker wys die foto’s wat maande nadat sy skootrekenaar gesteel is in sy Dropbox-rekening verskyn het. Foto: Bongiwe Gumede. Kyk die video op die oorspronklike webtuiste.

As sy skootrekenaar aan die internet gekoppel word, word Janneker se Dropbox-rekening outomaties opgedateer met nuwe foto’s, dokumente of video’s wat op die rekenaar gelaai is. “Ek het Maandag vir die eerste keer sedert die diefstal by my Dropbox-rekening aangeteken en gesien daar is vreemde dokumente en foto’s,” het Janneker gesê. Dropbox is ’n veilige aanlyn-bergplek vir foto’s, dokumente, video’s en lêers en gee die gebruiker daarvan veilige toegang tot hul data waar ook al hulle is. Dit berg data op ’n wolk­bediener, wat beteken dit sal outomaties op al die gebruiker se rekenaars, fone, tablette en Dropbox-profiel op die webwerf verskyn. Janneker se eerste vermoede was dat hy by die verkeerde rekening aangeteken is. “Ek het gedink ek het dalk ’n fout gemaak toe ek aanteken, maar toe sien ek my naam op die blad.” Hy het toe besef dit is vermoedelik die diewe wat by sy huis ingebreek het of die mense wat die gesteelde goedere gekoop het wat die foto’s opgelaai het. Janneker het die foto’s vir sy vrou gewys. “Sy was baie geskok,” het hy gesê. Daar is verskeie foto’s van mans wat op ’n rusbank sit en sosiaal verkeer, sowel as foto’s van ’n vrou en ’n kind wat ’n maaltyd in ’n McDonald’s-restaurant eet en ’n foto van ’n kaal vrou. Daar is ook ’n foto van Osama bin Laden, voormalige leier van die terreurgroep Al-Kaïda. Janneker het gesê hy stel nie daarin belang om sy skootrekenaar terug te kry nie, maar hy wil wel hê die diewe wat sy besittings gesteel het, moet gevang word. Hy het die diefstal in Januarie by die polisie aangemeld. “Indien die foto’s geneem is deur mense wat die skootrekenaar gekoop het sonder om te besef dat dit gesteel is, het hulle die reg om te weet dit is gesteel.”

 

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op die oorspronklike webtuiste: http://www.beeld.com/nuus/2014-05-21-vreemde-fotos-skok-n-diefstal

2014-05-22T00:00:00+00:00