fbpx

Wêreldkunstenaar van Colesberg

Beeld:

 

Philip Willem Badenhorst was een van daardie Karoo-boykies, uit die Colesberg-kontrei, wat net wou wegbreek en uitbreek en skree en fornikeer toe hy teen die laat sewentigs op die Michaelis-kunsskool in die Kaap te lande kom. En hy het. Ek onthou een van sy vroegste werke: ’n Vrou wat haarself met ontblote borste bloeiend oor doringdraad drapeer. Skokkend en uitdagend was dit.

Die oog, akriel op doek (24 x 18 cm), een van Philip Willem Badenhorst se werke in die uitstalling Cabinet.

Toe word sy al briljanter wordende werk beloon met ’n beurs van die Koninklike Akademie vir Skone Kunste en hy is weg na Antwerpen, België. Daar trou hy met ’n lieflike mens, Marijke Koringaar (Coornaert, eintlik). Hulle het twee seuns en leef deur dik en dun tot in lengte van dae.

As dit na ’n soort feëverhaal klink, mét gifappels bygetel, is dit ook so. Die verskil tussen Philip en ’n heldin soos Sneeuwitjie is dat Philip nooit onnadenkend geknibbel het aan bitterkos wat op sy bord te lande gekom het nie. Goed, sy werk aan die Antwerpse Akademie was karnavalesk, kleurryk en speels. En ook uiters vaardig. Hy verower dan ook die gesogte Prys van die Prins met ’n stillewe, Made in Belgium, en kondig daarmee onteenseglik sy geborgenheid met sy nuwe tuisland aan.

Algaande verdiep hy egter die temas in sy werk en toe sy reusagtige Gesamtkunst-werk, Holy Fire, ’n vierkant bestaande uit sewe rye elk met sewe skilderye, in Antwerpen uitgestal word, ontlok dit verbasing en vreemde emosies waarop jy jou hand nie kon lê nie.

Vir Philip was Holy Fire ook ’n wyse om die sikliese bestaan van die mens én die dood van ’n boesemvriend te verwerk. Ek het hom nog nooit daarna uitgevra nie, maar ek vermoed Philip beoefen nog altyd en steeds sy kuns as ’n vorm van self­terapie.

En nou, ná ’n indrukwekkende rits solo- en groepuitstallings in België, Japan, die VSA en in Suid-Afrika, is Philip gereed vir Cabinet, ’n versameling van uitsoekwerk waaraan hy die afgelope twee jaar gewerk het en wat tans in Galerie Berkenveld in
Wilrijk, België, uitgestal word. Sy ou vriendin uit die Michaelis-dae, Marlene Dumas, het die openingswoord gespreek. Die uitstalling val ook saam met sy 60ste verjaardag en, in pas met sy hardwerkende etos, wil hierdie man met sy silwerraambril en kaalgeskeerde kop eerder só die mylpaal van ’n verjaardag vier.

Soos met al sy uitstallings, vorm die individuele werke ’n hegte geheel met ’n bedagte tema. Cabinet is in wese ’n outobiografiese beeld, ’n terugblik op sy lewenswandel en op hom as mens. Dit is eerlik, ontblotend en by tye grappig. Van die titels in Cabinet is: Die skilder,AnoniemLeser van ou storiesDie bokserHartklopDie meesterDie kaart van buieDie sensualis en Die dandy.

Sy ambivalente liefde vir al sy verskillende selwe word onderskraag deur ’n tegniek wat Philip teen dié tyd in sy kunstenaarsloopbaan hoogs verfyn het.

Hy werk met ’n beperkte aantal monochrome kleure wat in lae op die doek aangewend en dan afgeskuur word, totdat ’n aantal flenterdun lae ontstaan wat aan die werk ’n besonderse liggewende kwaliteit gee, aldus die teks op die Cabinet-uitnodiging.

Wat voor hom lê, gaan waarskynlik wees soos dit wat reeds was: deurdagte, tegnies vaardige werk met ’n vrolike maar peinsende benadering tot die lewe.

En hopelik sal Philip, soos Sneeuwitjie, feestelik aangeklee wees vir die grand finale.

 

 

 

Oorweldigende innerlike stilte tref diep

Johan Myburg

 

Cabinet, Philip Willem Badenhorst se jongste uitstalling, het Vrydag in die Belgiese stad Antwerpen begin.

Met dié uitstalling, wat geopen is deur sy jare lange vriendin Marlene Dumas, vier Badenhorst ook sy 60ste verjaardag.

Dié boorling van Colesberg in die Karoo het in 1977 ’n studiebeurs na België verwerf en besluit om hom daar te vestig. Dit was kort nadat hy sy studie aan die Michaelis-kunsskool voltooi het.

Hoewel Badenhorst sy werk hoofsaaklik in Antwerpen, Tokio en San Francisco vertoon, het hy in 1998 die solo-uitstalling Mapping the Inte-rior in die destydse Karen McKerron-galery in Johannesburg aangebied. Dié versameling was die resultaat van ses maande se werk tydens ’n verblyf in 1995 by sy vriend Eben Venter in Prins Albert.

Sy skildery van ’n hart wat stap vir stap in verbande toegedraai is, soos in ’n noodhulpgids, is later vir die omslag van Venter se roman Ek stamel, ek sterwe gebruik.

Van dié uitstalling het Leoné van Niekerk destyds in Beeld geskryf: “Innerlike rus is nou Badenhorst se fokus.”

Volgens die beskrywing van sy jongste werk is dié innerlike stilte steeds ’n dryfveer.

“Kyk jy na Badenhorst se werk, word jy getref deur ’n oorweldigende stilte.

“In ’n wêreld boordensvol visuele indrukke, beliggaam Badenhorst se skilderye rus en die afwesigheid van klank en kom jy onder die indruk van sy gebruik van getemperde kleur en perfekte vorm,” aldus Galerie Berkenveld.​

 

Lees hierdie en ander kuns stukke op: http://www.beeld.com/vermaak/2014-04-26-wreldkunstenaar-van-colesberg

 

2014-04-29T00:00:00+00:00