fbpx

Werke toon baie belofte

Die Burger | Melvyn Minnaar:

 

Jy kry die gevoel dat jy jou agter die skerms van ’n ­dramatiese historiese toneelstuk of straks ’n Hollywood-rolprent bevind. Dit het alles te doen met die vernuftige manier waarop Mohau Modisakeng se ware soos rekwi­siete in die ruim en inskik­like lokaal uitgestal word.

Swings, ’n installasie deur Mohau Modisakeng.

’n Mens kan dit “beeld­houwerke” noem, maar daar is alle aanduidings dat hierdie Barok-objekte eerder ’n rol speel in iets wat moet gebeur of wat reeds gebeur het. (Sommige word inderdaad in sy video’s gebruik.)

Enorme plinte spog met dramatiese borsbeelde en ­uitspattige hooftooisels. Daar is sierkoepels van gietyster, afwerkings wat skerp wapens suggereer, ’n sambok-tafel en -stoel, ’n halwe sirkel wat as iets tussen ’n kraal en somerhuisie voordoen. Horings en Victoriaanse gulversierings vul alles monumentaal aan.

Daar is selfs ’n pragtige spaaider, sy sitplek net reg vir die droomrit. (Dat dit neffens die galery se parkeerplek staan, gee dit ekstra ruimte-trefkrag, selfs ’n titseltjie humor.)

Veel hiervan lyk na flambojante toonstukke, ­reuse-implemente en dekor van ’n spel of raaisel. Alles is netjies versorg, afgewerk, blinkswart en gelaai met ’n soort energie wat die ruimtes inneem. Jy kan nie anders as om in ’n avontuur van die ooptes vasgetrek te word nie.

Groot. Alles is groot. So ook die enorme foto’s wat eintlik die tentoonstelling se naam dra: Ditaola – “dol­osse” ofte wel toorbeentjies in Setswana. In hierdie reuse-prente staan die kunstenaar afgebeeld met ouderwetse ­geweer, ’n seremoniële ­rompie en ’n wit duif.

In die “teatertjie” word ’n paar van Modisakeng se ­video’s vertoon. Tegnies presies versorg, handhaaf elkeen daardie fyn tydsbalans wat nie ’n kyker se geduld toets nie. Swart-en-wit en tempo weerspieël die teatrale wat die beeldhouwerke buite voorstel.

Dit is duidelik dat Modisakeng ambisieus dink. Hy werk ook “groot” – dalk iets wat nommerpas is vir daardie blink inter­nasionale kunsgalerye op soek na nuwe talent. Ten spyte van opvallende visuele invloed van plaaslike kunstenaars op sy werk, is daar ’n dramatiese drif wat veral groot ­ruimtes soos hierdie (dink kuns-biennales) vul.

Dit is egter nie seker of die pretensieuse tekste wat hierdie tentoonstelling aanvul, die kunstenaar se kreatiwiteit stu of sy bewonderaars help nie. Die koloniale/Afrika­paradigma neig darem ­dees­dae al hoe meer na cliché en afgesaagde kunsverklaring.

Daarbenewens sal net die (anonieme) skrywer weet wat die volgende sin beteken: “Die materiële verteenwoor­diging binne die raamwerk van hierdie groep beeldhouwerke omvorm ’n konkrete ‘teks’ in verskillende abstrakte, onderliggende tekste.” Ai.

Nee wat, die jong Modisakeng het veel meer belofte as om vasgepen te word in ’n voorafbepaalde, taai teks, ­synde teater of film.

  • Tot 12 Julie.

Lees hierdie en ander interesante kuns stukke op: http://www.dieburger.com/vermaak/2014-06-13-werke-toon-baie-belofte

2014-06-13T00:00:00+00:00